News

Besending dwelms in voertuigbuffer uitgesnuffel

Shelby het in die kort tydjie wat sy ‘polisiebeampte’ is, ‘n suksessyfer van tussen 98% en 100% behaal, en is daar geen twyfel dat waar sy en sers. Van der Walt is, hul enige misdadiger se moses is

Selfs geharde misdadigers het hulle al vasgeloop teen Shelby se vermoë om dwelms te kan uitsnuffel saam met haar hanteerder, sers. Gerhard van der Walt, wat self 20 jaar se ervaring het.
Woensdag, 27 Julie het dié 8-jarige skaaphond tefie weer gewys dat sy haar sout as ‘polisiebeampte’ werd is.
Danksy haar skerp reuksin, kon sy ‘n beduidende hoeveelheid versteekte heroïne en Cat (Meth Cathinone) wat in grootmaat verpak was, in die buffer van ‘n voertuig uitsnuffel. Dit was nadat inligting ontvang is en die voertuig op die R59 voorgekeer is.
Die verdagte was met die dwelms na Parys onderweg.
Die heroïne word op ‘n straatwaarde van R10 000, en die Cat op R7 500 geraam.
Die dwelm Nyaope is ‘n skadeliker weergawe van heroïne. Heroïne het ‘n mostertkleur wat in skakerings kan wissel van amper ‘n borrie-kleur, na ‘n meer bruinerige kleur. Cat daarenteen is wit, wat in grootmaat amper soos vuuraansteker blokkies lyk. Wanneer dit fyngemaak word vir kleiner verpakkings, het dit ‘n soortgelyke tekstuur as fyngemaakte bordkryt.
Shelby is deur Gerhard self opgelei by die polisie se hondeskool in Pretoria. Sy was ‘n telingsteef by die hondeskool en nadat sy té oud geword het vir teeldoeleindes, het sy op 6-jarige ouderdom haar opleiding as dwelmhond suksesvol voltooi.
Sedertdien is Shelby getrou aan Gerhard se sy, en maak dié twee kollegas ‘n gedugte span.

Die dwelmmiddel Cat wat in grootmaat amper soos vuuraansteker blokkies lyk. Wanneer dit fyngemaak word vir kleiner verpakkings, het dit ‘n soortgelyke tekstuur as fyngemaakte bordkryt.

Dwelmhonde word in die eerste maand van hul opleiding eers geleer om te onderskei tussen die reuke van dwelms en nie-dwelms. Daarna volg nog twee maande se intensiewe opleiding, en baie herhaling om die hond te leer om die dwelms op te spoor in voertuie, geboue, toe houers soos tasse, en in die oop veld.
Dit verg baie konsentrasie van die hond en word die hond met balspel beloon wanneer die opdrag suksesvol uitgevoer is. Honde se reukbaan is baie sterk ontwikkel en ‘sien’ hul reuke byna soos ons kleure sien, vertel Gerhard.
Shelby het in die kort tydjie wat sy ‘polisiebeampte’ is, ‘n suksessyfer van tussen 98% en 100% behaal, en is daar geen twyfel dat waar sy en sers. Van der Walt is, hul enige misdadiger se moses is

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button