News

Eskom wag steeds vir Ngwathe se afbetaalplan

Eers wanneer die tweede transformator gekoppel is, sal dit verligting kan bring vir Parys se kragnood wat tans daaglikse munisipale rotasie beurtkrag noodsaak wanneer nodig, om oorlading van die kragnetwerk te voorkom.

Eskom het teen Vrydag, 29 Julie steeds nie die Ngwathe munisipaliteit se hersiene afbetaalplan vir sy skuld van R1,54 miljard ontvang nie. Ook nie terugvoer op die kwotasie wat aan die munisipaliteit gegee is vir die opgradering van die kragvoorsieningsnetwerk om die bestaande Aangemelde Maksimum Aanvraag (NMD) te kan verhoog vir die vyf Ngwathe dorpe nie. Dit is deur Eskom aan Gazette bevestig.
Tans is dié jarelange verouderde NMD nie genoeg om te kan voorsien in Parys se verbruiksbehoefte nie.
Die kwotasie vir die opgradering van die munisipale kragvoorsieningsnetwerk beloop meer as R66 miljoen.
Nadat Parys vroeg in Julie vir dae sonder krag was weens oorlading van die kragnetwerk wat skade by die Eskom-substasie veroorsaak het, is daar op 6 Julie samesprekings tussen Eskom en Ngwathe gevoer waartydens die munisipaliteit onderneem het om ‘n voorgestelde betaalooreenkoms teen 8 Julie by Eskom in te dien.
Die afbetaalplan is wel ingedien, maar terugverwys na die munisipaliteit vir hersiening. Wanneer Eskom die hersiene plan ontvang, sal dit eers deur die kragreus, en dan deur die Ngwathe Raad goedgekeur moet word.
Intussen het Eskom reeds aangedui dat die tweede transformator by sy substasie in Parys nie gekoppel sal word alvorens Ngwathe nie die Eskom-kwotasie vir opgradering aan sy kragvoorsieningsnetwerk aanvaar en betaal nie. Eers wanneer die tweede transformator gekoppel is, sal dit verligting kan bring vir Parys se kragnood wat tans daaglikse munisipale rotasie beurtkrag noodsaak wanneer nodig, om oorlading van die kragnetwerk te voorkom.
Gazette het 14 Julie berig dat die Ngwathe munisipaliteit by die Vrystaatse Provinsiale Tesourie en die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering & Tradisionele Sake sou aanklop vir hulp vir die meer as R66 miljoen om sy kragvoorsieningsnetwerk op te gradeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button