News

Rioolprobleem: Hou dop hier kom ‘n verskil belowe munisipaliteit

Munisipaliteit werk saam om dorp se rioolprobleem op te los

Dit wil lyk asof die Moqhaka Plaaslike munisipaliteit se waarnemende bestuurder, adv. Mzwakhe Mofokeng, erns maak om die dorp se voortslepende rioolprobleem op te los.

Dit volg nadat die AfriForum-tak in Viljoenskroon die munisipaliteit op Maandag, 11 Julie  by die Menseregtekommissie (MRK) aangekla het oor die haglike toestand in die dorp as gevolg van die rioolstorting. Die riool wat oral in Viljoenskroon vloei, is al vir ongeveer sewe jaar ’n probleem.

Die toestand van die rioolwerke by Viljoenskroon. Foto: Verskaf

AfriForum het in sy klag aan die MRK daarop gewys dat die rioolwerke nie op standaard is nie,en baie riool nie eers by die rioolwerke uitkom nie. Dit het tot gevolg dat Viljoenskroon, Rammulotsi, die Vleiland en omliggende plase en kleinhoewes dikwels met riool oorspoel word. Dit is so erg dat daar op baie plekke riooldamme gevorm het,” sê AfriForum. ‘n Groot oorsaak van die probleem is dat die rioolstelsel vir 7 000 inwoners ontwerp en gebou is, en dat dit tans deur meer as 111 000 inwoners gebruik moet word.

Riool vloei in erwe. Foto Verskaf

Sedert druk op die munispaliteit geplaas is om die probleem reg te stel, is ‘n ingenieur, wat voorheen by die munisipaliteit werksaam was en die omstandighede ken, aangestel om die situasie met sy kundigheid te verbeter.

Daar is ’n vloot van agt bakkies aangekoop vir die munisipaliteit se Departement van Water en Sanitasie om die klagte dat daar nie voertuie beskikbaar is om die werk te doen nie, die nek in te slaan.

Wat die rioolwerke betref, is daar reeds met herstelwerk aan die masjienerie begin en gaan dit geleidelik beter. ’n Probleem wat in die toekoms aandag moet kry, is die feit dat die hele rioolnetwerk nie voldoende is vir die totale inwonerstal van Viljoenskroon nie. Daar word ’n aansoek gebring vir fondse sodat daar in die toekoms daaraan aandag geskenk kan word. Intussen moet die bestaande netwerk eers in ’n werkende toestand gebring word.

Wat die onderskeie pompstasies en die netwerk van pype betref, is kontrakteurs aangestel om te help met die onderhoud, omdat van die verouderde pype heeltemal ineengestort het. Die grond wat met riool deurdrenk is, bemoeilik egter die werk en het vertraging tot gevolg.

Daar is ook poste geadverteer om vakante betrekkings te vul sodat die verskillende pompstasies  effektief beman kan word.

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het op 2 Augustus met adv. Mofokeng en die betrokke munisipale amptenare vergader oor die rioolprobleem en het die munisipaliteit onderneem dat daar teen einde Augustus ’n merkbare verskil aan die huidige rioolsituasie in Viljoenskroon sal wees.

Daar sal dan weer vergader word, sodat die vordering gemeet kan word.

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon sê hy is dankbaar dat daar daadwerklik iets aan die situasie gedoen word.

“Dit is baie beter om die situasie op te los tot voordeel van die hele gemeenskap as om hof toe te gaan. Ons het ook die munisipale bestuurder gevra dat die terrein van die rioolwerke netjies gemaak word, sodat die mense trots kan wees om daar te werk. Die werkers moet ook met die nodige toerusting toegerus word om hul werk te kan doen, maar dan moet hulle ook verantwoordelik gehou word vir die onderhoud van daardie toerusting. Ons sien uit daarna om die vordering dop te hou en is bly dat ons die saak op hierdie wyse kon hanteer. Ons sal egter steeds die rol van waghond in ons gemeenskap bly vervul,” het Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier gesê.

Related Articles

Back to top button