NewsNews

Staat trek saak terug teen 2

Die 19-jarige Muller van der Westhuizen wat Donderdagmiddag 14 April deur die Valke in hegtenis geneem is as die agtste beskuldigde op twee klagte van moord ná die dood van Simon Jubeda en Samuel Tjixa, is Vrydag 15 April deur landdros Ronnie Mnguni borg van R10 000 toegestaan. Daar is ook borgvoorwaardes gestel dat hy nie direk of indirek met staatsgetuies sal inmeng nie, en ook die Valke se hoofondersoekbeampte in die saak, kapt. Francois Laux, in kennis sal stel as hy buite ’n radius van 300km van Parys sou beweeg. In nog ’n drastiese wending in die saak het die staat kort voor Muller se verskyning sy saak teen twee van die ander beskuldigdes, Johan Cilliers Sr en Johan Cilliers Jr, teruggetrek. Muller sal nou saam met die ander beskuldigdes in die saak, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Wian van der Westhuizen en Fanie Oosthuizen op 27 Mei weer voor die hof verskyn. Hul borgtog is verleng.

Die 19-jarige Muller van der Westhuizen wat Donderdagmiddag 14 April deur die Valke in hegtenis geneem is as die agtste en jongste beskuldigde op twee klagte van moord ná die dood van Simon Jubeda en Samuel Tjixa, is Vrydag 15 April deur landdros Ronnie Mnguni borg  van R10 000 toegestaan. Daar is ook borgvoorwaardes gestel dat hy nie direk of indirek met staatsgetuies sal inmeng nie, en ook die Valke se hoofondersoekbeampte in die saak, kapt. Francois Laux, in kennis sal stel as hy buite ’n radius van 300km van Parys sou beweeg.
In nog ’n drastiese wending in die saak het die staat kort voor Muller se verskyning sy saak teen twee van die ander beskuldigdes, pa en seun, Johan Cilliers Sr en Johan Cilliers Jr, teruggetrek.
Muller sal nou saam met die ander beskuldigdes in die saak, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Wian van der Westhuizen en Fanie Oosthuizen op 27 Mei weer voor die hof verskyn. Hul borgtog is verleng.
Dit volg nadat adv. Sandile Mtetwa Vrydag weer vir die staat om uitstel gevra het omdat nog arrestasies mag volg en die klagstaat moontlik gewysig sal word. Al die beskuldigdes met die uitsondering van Prinsloo is boere van die Parys-distrik.
Boeta van der Westhuizen wat naas die klagtes van moord ook tereg staan op ’n  klag van intimidasie, het voor die ander se verskyning, eers alleen in die beskuldigdebank gestaan waar sy saak op die intimidasie klag ook uitgestel is na 27 Mei sodat die staat sy ondersoek kan voltooi en selfoonrekords kan nagaan.
Kapt. Francois Laux het voor die aanvang van die hofverrigtinge Vrydag aan lede van die media te kenne gegee dat berigte dat hy van die saak onttrek is, nie waar is nie, maar dat hy glo misverstaan is.
Die hofsaal was soos vorige kere stampvol met talle mediahuise wat verteenwoordig was asook asook familie van die beskuldigdes en oorledenes, en ANC ondersteuners.
Voor die aanvang van die hofverrigtinge het talle motorfietse van motorfietsklubs van onder meer  die Rand en sover as Welkom, verby die hofgebou gedreun om hul ondersteuning vir kapt. Henk Prinsloo, self ’n  motorfietsryer, en die boere te wys.
ANC en EFF ondersteuners was ook weer voor die hof vir protesoptrede maar was die groep heelwat rustiger as vorige kere. Daar was egter steeds  polisie teenwoordigheid om ’n  wakende oog oor die groep te hou.
Die saak teen die 6 aangeklaagdes volg na ’n  plaasaanval op die bejaarde Loedie van der Westhuizen, pa van Boeta van der Westhuizen, in Januarie vanjaar op sy plaas in die Weiveld-distrik. Nagenoeg 40 boere het op die noodroep om hulp gereageer nadat die plaasaanval bekendgeword het, en is Jubeda en Tjixa wat van die plaasaanval verdink is, deur van die boere op ’n  buurplaas gearresteer. Hulle was erg beseer en het kort daarna aan hul beserings beswyk.
* Milla Janse van Vuuren wat in ’n  ander saak vroeër deur die Valke aangekla is op oortreding van die vuurwapenwet, het Maandag 11 April hier voor die hof verskyn en sal op 13 April weer voor die hof wees.

Related Articles

Back to top button