NewsNews

Brendan het nóg planne vir regmaak

Parys sê dankie Brendan

Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, het Maandagmiddag die 14-jarige Brendan Fouché, ‘n leerder aan die Hoërskool Parys, ontmoet om persoonlik vir hom dankie te sê vir die inisiatief wat hy geneem het om die skade by Parys se hangbrug te herstel.
Die skade net regs van die hangbrug is veroorsaak toe water die grond onder die pad uitgekalwe en laat inval het, toe die Vaalrivier vroeër vanjaar in vloed was. Dié gat is sedert April al ‘n groot bekommernis.
Brendan en sy nefie het op ‘n dag hier verbygedraf en was Brendan bekommerd dat iemand hier sou seerkry.
Hy het dadelik sy pa Ben, se hulp gevra en binne ‘n dag het hulle die skade herstel met vragte grond wat ingery is, en sandsakke wat gepak is in die gat.

Só het dit gelyk.
Só lyk dit nou.

Brendan het self gehelp om die gat toe te maak, maar die werk is nog nie klaar nie.
Hy het reeds sy o.15 rugbyspan-afrigter by die skool genader om te vra dat die span hom help om die klippe weer terug te pak sodat die grond nie weer inval nie.
Dan wil hy ook nog hê dat daar skoongemaak word op die rivieroewer, en wil hy self meer betrokke raak by die plaaslike DBV.
Brendan vertel dat hy in Parys grootgeword het, en is dit vir hom belangrik dat dit moet netjies lyk wanneer toeriste kom om die dorp te besoek. Die hangbrug is juis ‘n groot toeriste besoekpunt.
Oor dit wat Brendan reggekry het met sy pa se hulp, is hy baie beskeie.
Hy het nie verwag dat die burgemeester hom self sou wou dankie sê nie, maar het groot waardering gehad dat sy wou tyd maak om hom te ontmoet, en met hom te gesels.

Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, Maandagmiddag saam met Brendan Fouché (14) toe sy vir hom dankie gesê het vir dit wat hy vir Parys gedoen het tmet sy inisiatief om die skade by die dorp se hangbrug te herstel.

Related Articles

Back to top button