NewsNews

“My besigheid se wins in die asblik oor ‘Smartie’ krag”

Wie betaal nou hierdie skade?

Maandag is ‘n hele baksel koeke asblik toe. Net soos Vrydag en soveel ander dae, want jy weet net nooit wanneer die krag afgaan nie. Hoe oorleef ‘n tuisnywerheid dit? Hoe oorleef enige besigheid dit?
Vir Brenda Maloney wat die Kontrei Kombuis sedert 2016 van haar huis in Grensstraat bedryf, is dit nie munisipale rotasie beurtkrag wat haar hande in die hare het nie. Veel eerder die onvoorspelbaarheid van die skedule vir dié ‘smartie’ krag soos Parysenaars spottenderwys na die beurtkrag verwys wat oorlading van die kragvoorsieningsnetwerk moet voorkom.

Groot skade vir die Kontrei Kombuis met ‘n hele baksel koeke wat Maandag weggegooi moes word weens onvoorsiene beurtkrag.

As jy weet wanneer die krag afgaan, kan jy beplan, sê Brenda, maar in die afgelope twee weke was sy al wat ‘smartie’ is op die skedule. Vroeër was sy ’n blou ‘martie’, toe skielik begin haar beurtkragtye met die groen ‘smarties’ ooreenstem, en tussendeur was daar al selfs rooi ‘smartie’ tye vir haar.
Daar is al by herhaling verduidelik dat inwoners moet verwag dat beurtkrag enige tyd in die geskeduleerde tydgleuwe toegepas kan word, omdat rotasie beurtkrag toegepas word as daar druk is op die kragnetwerk. Soms is die verbruik min genoeg dat dit nie nodig is om af te sit nie, maar soms word meer as een gedeelte afgeskakel, of eers later in die tydgleuf.
Ongelukkig is dit juis hierdie raai raai riepa van wanneer die krag dan nou sal afgaan, wat die grootste skade en frustrasie veroorsaak.
Soos Brenda voel die meeste sakelui dat daar eerder streng by die skedule gehou moet word om skade te beperk. Ten minste weet jy dan wanneer die ‘smartie’ joune is. En as jy weet, kan jy beplan.
Oonde vat tyd om warm te word. Wanneer die krag skielik net onderbreek word, selfs ook buite jou geskeduleerde tyd, beland halfgaar koeke in die asblik, sê Brenda. Jy kan nie ’n halfgebakte koek eers na twee ure weer in die oond sit nie.
Saans as ander slaap, bak sy in die hoop dat die krag nie onderbreek word nie. Soggens vroeg is sy al besig om deeg te meng. Maar iewers tussenin moet daar nog aankope gedoen word, kliënte ontvang word, bestellings afgelewer word en die kombuis tot rus kom. Jy beplan jou dag rondom skedules, en dan het jy steeds duisende rand se skade as gevolg van ‘n onbetroubare skedule, sê Brenda.
Toe Parys vroeg in Junie vir vier dae kragloos was, moes sy ‘n oond vol wortelkoeke weggooi en al haar bestellings van die Vrydag tot die Dinsdag kanselleer. Vir daardie naweek alleen R4 500 se verlies aan inkomste, afgesien van dit wat weggegooi moes word.
Kragopwekkers is nie ‘n opsie vir haar onderneming nie, weens die hoë brandstofkoste wat die inset nie regverdig aan die wins nie.

Dié prag koek is een die spog kunswerke van Brenda Maloney. Sy maak staat op die inkomste uit haar gebak.
Met haar gebak verskaf sy ook werk vir ander.

Op die einde van die dag verloor almal. Die besigheid verloor inkomste, winkels sit met leë rakke as bestellings nie betyds gelewer kan word nie, en selfs werkers trek aan die kortste ent, want hulle kan net betaal word vir die ure wat gewerk kon word. En jy moet betaal vir krag op jou meter sonder dat jy gewaarborg is dat jy krag sal hê. Voor die kragtariefverhoging begin Julie, het Brenda reeds ‘n R1 000 per week vir krag betaal, maar wie betaal nou hierdie skade?

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button