Ses jaar agter tralies vir besit van ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie
Die klag teen hom dat gepeuter is met noodsaaklike infrastruktuur is teruggetrek.

‘n 41-Jarige man sal 6 jaar tronkstraf uitdien vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Daniel Mathebula se vonnis in die streekhof in Petrus Steyn volg ná ‘n voorval op 11 Februarie 2020 toe polisielede in Petrus Steyn gereageer het op ‘n klag dat daar met noodsaaklike infrastruktuur gepeuter word op ‘n plaas in die Stilfontein-distrik. Stukke gesnyde spoorwegkabel is inderdaad by Mathebula gekry, sowel as die ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, sê kapt. Christopher Singo, woordvoerder van die Valke.
Die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad het die saak ondersoek.
Die hof het Mathebula gevonnis tot 8 jaar gevangenisstraf vir die besit van die ongelisensieerde vuurwapen waarvan 4 jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie weer aan dieselfde oortreding skuldig bevind word nie. Hy het 2 jaar gevangenisstraf gekry vir die besit van die ammunisie wat by hom gekry is.
Die klag teen hom dat gepeuter is met noodsaaklike infrastruktuur is teruggetrek.





