MotoringNewsSport

SA Skolerugbyspan: ‘Ek is dankbaar vir die voorreg, talent en geleenthede’

“Ek kan net baie dankie sê vir my Hemelse Vader vir die voorreg, talent en geleenthede wat oor my pad gekom het. En my gesin wat my altyd ondersteun in goeie en slegte tye. Julle is my grootste ‘fans’”.

Lukas Meyer, oudleerder van Parys Primêre skool en skoolkaptein (hoofseun) van Grey Kollege Sekondêr in Bloemfontein, is ingesluit in die Skole rugbyspan wat op 19, 23 en 27 Augustus in ‘n internasionale rugbytoernooi teen Engeland en Frankryk in Kaapstad sal speel.
Lukas sal as nr. 7 in die posisie as flank op die veld draf.

Lukas Meyer is ingesluit in die SA Skolerugbyspan wat eersdaags in Kaapstad in ‘n internasionale rugbytoernooi teen Engeland en Frankryk, op die veld sal draf.

Die twee SA skolespanne het mekaar die afgelope naweek by die Hamilton Rugbyklub in Kaapstad die stryd aangesê, waarna die spelers die Springbokke se derde toets teen Wallis in die Castle Lager-reeks op die DHL-stadion bygewoon het.
Vir dié kranige jong Parysenaar was dit ‘n groot voorreg om die Springbok-toets self te kon bywoon wat ook Eben Etzebeth se 100ste, en Bongi Mbonambi se 50ste toetswedstryd mylpale was.
Oor sy eie prestasie op die rugbyveld is Lukas beskeie. “Ek kan net baie dankie sê vir my Hemelse Vader vir die voorreg, talent en geleenthede wat oor my pad gekom het. En my gesin wat my altyd ondersteun in goeie en slegte tye. Julle is my grootste ‘fans’”.
Lukas het in graad 1 begin met Bulletjie rugby, en het ‘n ‘versigtige’ Lukas soms gewens dat dit nie ‘n kontaksport was nie. Op laerskool speel hy meestal as agtste man, maar skuif in sy hoërskooljare na die posisie as flank.
In graad 7 het hy die eerste keer Cravenweek gespeel vir die Valke, en in graad 11 trek hy Grey Kollege se eerstespan rugbytrui aan. Weer het hy die voorreg gekry om vir die Cheetahs aan die Cravenweek deel te neem, en is die geleentheid om vir die SA skole-span te speel ‘n hoogtepunt waarmee hy sy skoolloopbaan afsluit.

Vra jy hom oor rugbyspelers wat uitstaan, sonder hy Richie McCaw uit vir sy spel en leierskap op die veld. Op die tuisfront is dit Duane Vermeulen wat hy bewonder. Maar sy grootste mentors en helde is hulle wat hom in sy skoolloopbaan gehelp en gewys het hoe om rugby te speel. Hulle wat by hom ’n liefde vir die spel gekweek het. En dit is vir hulle wat hy dankie sê. Lukas en sy spanmaats was van 9-16 Julie op ‘n oefenkamp, en sal mekaar weer op 14 Augustus op die veld kry, net voor hul kragmeting teen die Engelse en die Franse.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button