
Eskom het vroeër in ‘n verklaring reeds aangedui dat ‘n tweede transformator vandag, 14 Julie, na sy substasie in Parys gebring sal word in die plek van die transformator wat Sondag vanaf die substasie geskuif is vir herstelwerk.
Hoewel baie Parysenaars hoopvol is dat die tweede transformator verligting sal bring vir die lang kraglose ure weens Eskom en munisipale rotasie beurtkrag wat tans saam toegepas word, is die kragkrisis allermins vir die dorp verby.
Eskom het vanoggend, Donderdag 14 Julie, bevestig dat ‘n afbetaalplan vir Ngwathe se skuld aan die kragreus nog nie gefinaliseer is nie. Ngwathe skuld Eskom tans R1,54 miljard.
Die voorgestelde afbetaalplan van Ngwathe wat aan Eskom voorgelê is, is teruggestuur vir hersiening.
Die tweede transformator sal ook eers gekoppel word wanneer Ngwathe die Eskom-kwotasie vir opgradering aan sy kragvoorsieningsnetwerk aanvaar en betaal het. Totdat dit gebeur word die transformator solank geskuif na Parys sodat wanneer die betaling vir die opgradering ontvang word, daar nie vertragings sal wees nie, het Eskom gesê.
Die Ngwathe uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, het vroeër die week aangedui dat ‘n verklaring deur Ngwathe uitgereik sal word oor wat die situasie met Eskom tans is.
Intussen sal AfriForum se dringende aansoek in die hooggeregshof waarin die Ngwathe munisipaliteit en Eskom beide as respondente gevoeg is, weer Vrydag 15 Julie voor die hof kom. AfriForum het die dringende aansoek tot die hof gerig oor die dorp se voortslepende water- en kragprobleme.
The copyright to this information resides with The Parys Gazette and may be shared as a link to the original or refence to the author but may not be copied without the explicit permission of the author





