NewsNews

Wêreldgehalte kleibaan ’n juweel vir Potchefstroom

“Dit is wonderlik om die vordering te sien. Hierdie kleibane gaan van internasionale standaard wees en op dieselfde vlak as Roland Garros in Frankryk. Vir hierdie projek word spesiale klei uit Italië ook ingevoer."

Vordering vorder flink met die bou van die eerste klei tennisbaan in Suid-Afrika by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.
Hierdie kleibaan vorm ‘n groot deel van die Noordwes-Universiteit se tenniskompleks op die Fanie du Toit Sportgronde. Met drie verskillende oppervlaktes (klei, gras en hardebaan) sal hierdie tenniskompleks enig in sy soort wees.
Daar word vyf kleibane met een hoofbaan opgerig met die doel om tennisspelers se vaardighede op klei te verbeter en ook ‘n aantrekkingskrag te wees vir spelers en tennisakademies om die kleifasiliteit te kan gebruik.
Riaan Venter, hoofafrigter van NWU tennis en eienaar van die Riaan Venter Tennisakademie by die NWU, is opgewonde dat hierdie droom en visie nou binnekort ‘n realiteit sal wees.

Foto’s: Wouter Pienaar

“Dit is wonderlik om die vordering te sien. Hierdie kleibane gaan van internasionale standaard wees en op dieselfde vlak as Roland Garros in Frankryk. Vir hierdie projek word spesiale klei uit Italië ook ingevoer. Ons wil verseker dat spelers ‘n wêreldklas ervaring hier in Potchefstroom het,” noem Venter.
Hy brei ook uit oor die hoofredes rondom die bou van hierdie kleibaanfasiliteit in Potchefstroom. Volgens hom is die voordele legio.
“Dit is belangrik vir ontwikkeling om junior spelers die geleentheid te gee om op klei te oefen aangesien daar baie kleibane in Europa is waar groot toernooie plaasvind. Dit is ook ‘n heeltemal ander manier van tennis speel op klei. Die bal hop hoër en is stadiger.
“Die beweging op die baan is ook van kardinale belang. Spelers kan nie stilstaan nie, hulle moet eerder op hulle voete dryf en in beweging bly,” verduidelik hy. Een van die voordele van hierdie projek is dat ‘n Potchefstroomse maatskappy, Trompie Sport, die projek hanteer. Hulle het hul plaaslike kennis en vaardighede met internasionale insig gekombineer om die projek te laat realiseer.

“Ons het na Duitsland en Frankryk gereis om navorsing te doen en uit te vind wat die verg om dit te kan bou. Dit voel goed om deel te wees van hierdie projek wat ‘n groot deurbraak is vir tennis in Suid-Afrika,” noem die hoofbedryfsbeampte van Trompie Sport, Tiaan van der Merwe.

Volgens die projekbestuurder, Rhyner de Jongh, word daar drie tipes klei vir die drie lae van die baan gebruik.
“Die eerste laag klei is plaaslike gemaalde kleistene wat ons gebruik. Daarna word twee ingevoerde kleisoorte gebruik vir die middelste en boonste laag. Die boonste laag is ‘n baie fyn klei,” verduidelik De Jongh.

Daar is ook spesiale toerusting wat vir die onderhoud van die baan aangekoop moes word. Dreinering speel ook ‘n belangrike rol in die algehele onderhoud van die baan. Daar is sodoende ‘n spesiale dreineringssisteem wat in plek gestel is om seker te maak dat die baan altyd klam bly en die klei nie uitdroog nie.

Spesiale LED-ligte gaan ook seker maak dat spelers nie in die donker sal wees op die baan nie.

As alles goed gaan behoort die kleibane wat tans omtrent 85% klaar is, teen einde Julie – middel Augustus voltooi sal word.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button