News

’n Lewende herinnering in ‘Ouma se huis’

Hierdie is geen stowwerige, toegemaakte, ontoeganklike museum nie. Allermins.

Hier aan die oewer van die Vaalrivier op die FAK se Udolpho Rivierplaas, beleef jy iets van toeka se tyd in Ouma se huis. Toe daar pyp gerook is op die stoep, ‘n koppie Boeretroos in die hand en die reuk van varsgebakte brood wat syfer deur die koolstoofhortjies.
Die Plaashuis-museum bekend as Ouma se huis is ‘n projek waaraan die FAK meer as ‘n jaar lank gewerk het. Die ou plaashuis van Henning Klopper is deur die FAK in samewerking met die Erfenisstigting en verskeie belanghebbendes opgeknap en omskep in ‘n eg-Afrikaanse tuiste waar eeue oue tradisies beleef en herleef kan word.
Met die amptelike opening  op Udolpho is daar na Ouma se huis as ‘n kultuurbaken verwys. ‘n Plek waar jy die luuksheid van oudheid beleef. ‘n Lewende herinnering.

Die lintknipseremonie by “Ouma se huis”.

Van die gaste wat die opening van “Ouma se huis” bygewoon het. 

Van Toeka tot nou se telefone. 

Adv. J.G. Strijdom se indrukwekkende bottelversameling is ook hier te sien. 

Die besondere museum met sy ryke erfenis is saamgestel uit erfstukke en jare se versamel en bymekaarmaak wat moontlik gemaak is danksy die hulp van Gys en Kobie Stroh van die FAK se Vaal-Kultuurnetwerk.
Dit is juis die Ströh-egpaar se besondere liefde vir oudhede wat hierdie projek gedryf het.

Gys en Kobie Ströh saam met Hans Combrink, ‘n susterskind van adv. J.G Strijdom. 

Hul versamelings word aangevul met meubels van die voormalige eerste minister JG Strijdom se huis in Modimolle (Nylstroom), wat ook aan die projek geskenk is. Die Modimolle-Mookhophong plaaslike munisipaliteit in Limpopo het die meubels aan die FAK beskikbaar gestel volgens ‘n bruikleen-ooreenkoms.
Daarmee saam is ook verskeie interessanthede uit die Strijdom-huis hier te sien waaronder die regsboeke van adv. Strijdom, sy besondere bottelversameling, sy oorspronklike staatstelefoon, tikmasjien en die doodskis wat hy laat maak het en toe nooit self in kon pas nie.
Die Leeu van die Noorde:
Adv. J.G. Strijdom was nie verniet bekend as die Leeu van die Noorde nie. Hy was ‘n vurige nasionalis, iemand wat hard geveg en gewerk het vir sy kultuurerfenis.
‘n Vasberade vegter, maar een van die mees opregte mense wat ek geken het, het sy susterskind, Hans Combrink, tydens die amptelike opening van Ouma se huis gesê. Hy het ook verwys na die hoogste struktuur in Suid-Afrika, in Afrika en tot onlangs toe nog in die hele suidelike halfrond, die JG Strijdom-toring in Hillbrow wat destyds na adv. J.G Strijdom vernoem is – soos die talle geboue, paaie, hospitale en lughawens wat ook sy naam sou dra.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button