NewsNews

Nou watter “smartie in die pakkie? Wie weet

Kragkrisis: ''Smarties" was nog nooit vir 'n dorp so bitter nie

As jy nie in Parys bly nie, sal jy nie weet wat “smartie” krag is nie.

Maar vir Parysenaars laat dié ”smartie” beurte ‘n baie bitter smaak in die mond.

Want “smartie” beurtkrag is die naam wat Parysenaars spottenderwys gegee het aan die kleurkolletjies op die Ngwathe munisipaliteit se rotasie beurtkragskedule. En die bitterheid gaan daaroor dat “smartie” beurte  nou bo en behalwe Eskom se reeds lang ure van nasionale beurtkrag  toegepas word, om die dorp se swak onderhoude en brose kragnetwerk  van oorlading te beskerm.

Wat Parysenaars die meeste die josie in het is dat dié rotasie beurtkrag sonder waarskuwing ingestel word. Sodra die las op die netwerk té hoog word, is jy skiellik in die donkerte as dit jou “smartie” beurt is. En soms selfs as dit nie jou beurt is nie, soos wat Dinsdagaand 5 Julie, die geval was toe meer as een gebied se krag afgeskakel moes word om die las op die netwerk te help verlig.

En die kersie op die koek is dat daar weens foute op die netwerk, diefstal en sabotasie aan kraglyne en mini-substasies, al soveel skakelings op die netwerk verander moes word, dat niemand meer seker is watter “smartie” hulle in die beurtkragpakkie is nie. Geel, rooi, groen of blou – wie weet, want die “Smartie” pakkie is nou behoorlik deurmekaar. En die “smarties” val nou sommer gelyk uit die pakkie in alle kleure.

Inwoners sê daar is al tevergeefs gevra vir ‘n nuwe en op datum skedule.

Die munisipale beurtkragskedule is aanvanklik opgestel toe rotasie beurtkrag die eerste keer ingestel is en die munisipaliteit toe gehelp is om met behulp van kaarte van die dorp se kragnetwerk, die dorp op te deel met kleurkodes wat dan om die beurt afgesit word.

Soos wat die kaart en skedule versprei is, het dit op WhatsApp groepe die kolletjie-gesig gekry wat nou bekendstaan as die “Smartie” krag wat helaas alles behalwe “smart” is vir die inwoners van dié dorp.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button