NewsNews

Kosblikkieprojek verskaf enigste ete per dag vir baie kleuters

Die waarde van Helpende Hand se Kosblikkieprojek het weer aan die lig gekom nadat ʼn studie gedoen is op kinders wat oor die Kerstyd minder kos ontvang as wat hulle gedurende ‘n skooldag by die Kosblikkie-voedingsprogram ontvang. Hierdie kleuters het nie net nie gegroei nie, maar het inderwaarheid drasties gewig verloor. Die Kosblikkieprojek is daarop gemik om gesonde voeding aan behoeftige kleuters te voorsien gedurende skooltyd.

Die waarde van Helpende Hand se Kosblikkieprojek het weer aan die lig gekom nadat ʼn studie gedoen is op kinders wat oor die Kerstyd  minder kos ontvang as wat hulle gedurende ‘n skooldag by die Kosblikkie-voedingsprogram ontvang. Hierdie kleuters het nie net nie gegroei nie, maar het inderwaarheid drasties gewig verloor. Die Kosblikkieprojek is daarop gemik om gesonde voeding aan behoeftige kleuters te voorsien gedurende skooltyd.

Helpende Hand het in Desember 2015 die mates geneem van kleuters wat deel uitmaak van die Kosblikkieprojek. Dieselfde kleuters se mates is weer in Januarie geneem om te sien hoeveel die kinders gegroei het met die doel om te bepaal of hulle gedurende dié tydperk voldoende voeding ontvang het. Die kleuterskole was tydens Desember gesluit en kleuters het dus nie kos ontvang nie.

“In van die ergste gevalle het ʼn driejarige seuntjie 5% van sy liggaamsmassa verloor oor die Desembervakansie,” sê Margolé Riekert, projekorganiseerder by Helpende Hand. “ʼn Verlies van 5% in liggaamsmassa is baie vir ’n kind van 3. Gelukkig het ons dit opgemerk gedurende die ondersoek  en het hy op die voedingsprogram teen einde Maart weer 4,6% van die massa bygekry.

Volgens die studie het die meeste kleuters liggaamsmassa verloor. Slegs 7% van die kleuters het normale groei getoon. Bykans 93% van kleuters het abnormale gewigsverlies getoon. ’n Gemiddelde verlies van 2% of 300 g is na die vakansie by die kleuters opgemerk. Danksy deeglike voeding deur die Kosblikkieprojek het die gemiddelde massa weer met 4,3% gestyg.

Volgens Adel Rens, ’n dieetkundige, help optimale voeding kinders nie net om fisies te groei nie, maar ook om kognitief te ontwikkel. “Sonder optimale voeding kan kinders ’n lewenslange agterstand ervaar, veral in akademiese prestasie. Die tydperk waarin die kleuters hulself bevind, is hul heel belangrikste tyd vir optimale ontwikkeling – fisies, emosioneel, sosiaal en veral kognitief. Die waarde van ‘n program soos Helpende Hand wat voeding verskaf aan kinders in hierdie belangrike vormingsjare, kan dus nie oorbeklemtoon word nie,” sê Rens.

“Omdat kinders by die huis is, eet hulle gewoonlik ’n bietjie meer en tel dan gewig op omdat hulle minder aktief is. Ongelukkig is dit nie die geval by al die land se kleuterskole nie en sommige kinders moet honger ly as gevolg van armoede. Dit is juis hoekom die Kosblikkieprojek van kardinale belang is vir ons land se kinders. Ons weet uit vorige studies dat vir 3 uit 10 kleuters hierdie ook die enigste ete is wat hulle die dag gaan kry.”

Om seker te maak dat wanvoeding en ondervoeding reeds vroeg uitgeken word, sal Helpende Hand voortaan vir elke kleuterskool wat deel van die Kosblikkieprojek uitmaak, ʼn MUAC-maatband en ’n groeikaart verskaf om vroegtydig op te merk wanneer kinders ondervoed is. Die MUAC-maatband word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) versprei en dui die gewig en lengte vir seuns en dogters tussen die ouderdomme 2 en  5 jaar aan.

Omdat kinders konstant groei en hul liggame bene, tande en spiere ontwikkel asook bloed vervaardig, benodig hulle meer voedingstofryke voedsel. ʼn Kind wat gesond en goed gevoed is, het genoeg energie om te reageer op en te leer uit stimuli in sy of haar omgewing.

Volgens dr Danie Brink, hoof uitvoerende direkteur van Helpende Hand, glo die organisasie vas dat daar deur opvoeding ʼn einde aan armoede gemaak kan word. Daarom is die Kosblikkieprojek geskep om seker te maak dat arm kleuters die nodige voeding kry om suksesvol te ontwikkel en om te kan leer. Die projek gee op ʼn daaglikse basis kos vir meer as 4 500 kleuters.

Die projek word voortdurend gemonitor om seker te maak dat daar optimaal in kinders se behoeftes voorsien word. Die publiek word aangemoedig om die projek te ondersteun. SMS die woord “bord” na 38969 om R10 te skenk en ’n bydrae te maak tot ’n gesonde bord kos vir ’n kleuter.

Vir meer inligting oor die Kosblikkieprojek, kontak gerus vir Margolé Riekert, projekorganiseerder: Solidariteit Helpende Hand, op 012 644 4390012 644 4390.

 

Related Articles

Back to top button