NewsNews

Só het Ngwathe Eskom in Junie betaal

Daar lê nog baie uitdagings voor vir Parys

Van die R25,7m Eskom lopende rekening wat Ngwathe in Junie aan die kragreus moes betaal, is net R12,5m einde Junie betaal.

Die Ngwathe uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer het tydens gemeenskapsvergaderings gister, Sondag 3 Julie, aangedui dat hulle Eskom gedurende die wintermaande net 50% van die lopende rekening betaal omdat wintertariewe wat Eskom die munisipaliteit vra hoër is as die somertariewe.

Maar benewens die lopende rekening wat nie ten volle vereffen word nie, is Ngwathe se skuldlas nou reeds R1,54 miljard aan Eskom.

Eskom verwag nou dat ‘n betaling vir die skade in die Eskom substasie weens oorlading van die netwerk gedoen moet word, wat  R1,086 miljoen beloop alvorens met herstelwerk begin sal word en kragtoevoer vir Parys herstel sal word. Die bedrag is weer vanoggend deur Gazette met Eskom bevestig. Die vereiste betaling moet ook eers in Eskom se rekening reflekteer of ‘n bankgewaarborgde tjek gelewer word.

Vandag is reeds die vierde dag dat die hele Parys sonder krag en water is as gevolg van die munisipaliteit se onvermoë om sy skuldlas aan Eskom te betaal. ‘n Aanbod is gemaak deur plaaslike sakeman en raadslid, Saal de Jager, op Sondag 3 Julie om die vereiste bedrag onmiddellik aan Eskom Sondag oor te betaal sodat die dorp weer kan krag kry met die verstandhouding dat die munisipaliteit ‘n waarborg moet gee dat hy teen vanoggend, Maandag 4 Julie om 10:00 sy geld sou terughê. Die waarborg kon nie gegee word deur die munisipaliteit nie. Die burgemeester het aangedui dat betalings deur die munisipaliteit nie na-ure en oor naweke gedoen kan word nie omdat dit teen wetgewing is wat betrekking het op munisipaliteite. Sy het gesê sou dit gedoen word, sal dit as vrugtelose uitgawe gesien word.

Sou kragtoevoer herstel word moet daar ook nie uit die oog verloor word dat daar in die tyd wat die dorp sonder krag was, ook kabeldiefstal was, asook dele wat reeds sonder krag was voordat die kragtoevoer na die dorp afgesny is. Dit beteken in effek dat wanneer die kragtoevoer herstel word, verbruikers waarskynlik ook steeds nie onmiddellik weer krag sal hê nie. Nog minder water omdat dit dae sal vat vir die waterwerke om weer die opgaardamme vol te kry.

Ook die kragnetwerk sal onder uiterste druk geplaas word wanneer verbruikers weer krag het wat steeds die gevaar van oorlading inhou op die netwerk met die elektrisiteitsvoorsieningsperk aan die dorp wat op 30 Junie deur Eskom nog verder verminder is. Die perk wat Parys gehad het voor die aksie was alreeds té min vir wat die dorp nodig het. Dan is daar nog Eskom beurtkrag ook wat steeds daagliks geld en nog verdere kraglose ure sal beteken, en is dit bykans ‘n gegewe dat rotasie munisipale beurtkrag ook sal voortduur.

The copyright to this information resides with The Parys Gazette and may be shared as a link to the original or refence to the author but may not be copied without the explicit permission of the author

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button