NewsNews

Kragstuwing: Kyk mooi na jou versekering

Suid-Afrikaners word hard geslaan deur beurtkrag wat weer deel van ons daaglikse lewens geword het. Maar wat is die invloed hiervan op huishoudelike toebehore?

Gazette het by plaaslike elektrisiëns in Parys gaan navraag doen oor die mees algemene klagtes en probleme met elektriese toebehore wat hulle kry wanneer beurtkrag toegepas word.
Hoewel dit altyd ‘n grys area bly van wat die oorsaak is van elektriese toebehore wat onklaar raak, was daar beduidend meer ys- en vrieskaskompressors wat vervang word.
Ook voorafbetaalde elektrisiteitsmeters het klaarblyklik swaar getrek en is ook ’n paar van dié meters vervang.
Die probleem lê nie by wanneer die krag afgaan nie, maar eerder by wanneer die kragtoevoer weer herstel word en dit dan kragstuwing tot gevolg mag hê Die beste raad is om jou elektriese toestelle uit te prop of muurskakelaars af te skakel en dan, sodra kragtoevoer herstel is, ‘n oomblik te wag voordat jy weer jou muurskakelaars aanskakel of elektriese toestelle inprop. Hou net jou ligte aan sodat jy sal weet wanneer kragtoevoer herstel is.
Nog goeie raad vir korttermyn polishouers is om met hul makelaar of die betrokke versekeringsmaatskappye kontak te maak om seker te maak vir watter bedrae, en op watter afdelings van hul polisse hul dekking geniet vir kragstuwing.
Onthou dit bly die plig van die polishouer om jouself te vergewis waarvoor jy te alle tye gedek is, en vir watter bedrag jy vir ‘n spesifieke gebeurtenis gedek is, waarsku Vaalrivier Makelaars.

Hulle het die volgende raad vir verbruikers:
Skade en verliese as gevolg van die aan- en afskakel van elektrisiteit is gewoonlik as volg:
* Gewone huishoudings: Skade aan, of verlies van elektriese toestelle in en om die huis asook aan elektroniese toerusting. Brandskade aan geboue is egter ook moontlik.
* Besighede: Skade aan masjienerie as gevolg van kragstuwing, of die skerp styging in krag wat veroorsaak word deur die aan- en afskakel van die elektrisiteitstoevoer. Fisiese verlies van of skade aan verkoelde handelsvoorraad as gevolg van die onderbreking van die
elektrisiteitstoevoer.
* Verlies van inkomste van besighede wat volg op die steuring of onderbreking van die besigheid as gevolg van die onderbreking in die elektrisiteitstoevoer.
Korttermyn versekeringsmaatskappye het sedert beurtkrag begin het, aanpassings op hul polisse gemaak ten einde hul kliënte te beskerm. Persoonlike – en kommersiële polisbewoordings is aangepas om spesifiek dekking te verleen vir skade as gevolg van kragstuwing aan die afdelings waar van toepassing.
Polishouers kan egter skade probeer verhoed en bekamp deur alle data en kraglyne/-kabels wat die perseel binnekom of verlaat, met stuwingsbrekers toe te rus.

Om ‘n eis te kan indien vir skade wat vermoedelik deur beurtkrag veroorsaak is, kan jy die volgende in gedagte hou:
1. Kry ‘n skadeverslag van ‘n erkende hersteller van die betrokke item wat jy wil eis.
2. Op die skadeverslag moet aangedui word wat die oorsaak van die skade aan die item is, en die koste van die herstel van die item.
3. Indien die item nie ekonomies herstelbaar is nie, moet ‘n kwotasie by ‘n erkende handelaar gekry word om die item te vervang.
4. Dien die bogenoemde dokumente saam met ‘n eisvorm in by die betrokke makelaar of versekeringsmaatskappy.
5. Die geldigheid van die eis sal dan deur die betrokke maatskappy bepaal word in terme van die betrokke polisbewoording van toepassing.
6. Die maatskappy kan self besluit om ’n eise bemiddelaar aan te stel om die eis namens die maatskappy te ondersoek en te skik met die kliënt.
7. Die betrokke eisebemiddelaar sal die kliënt kontak en ‘n afspraak maak om ‘n onderhoud met die kliënt te hê ten einde die eis af te handel.
8. Indien dit ‘n geldige eis is kan die maatskappy die eis skik deur die betrokke item te vervang of die eis in kontant skik sodat die versekerde dan self die beskadigde item vervang by ‘n handelaar van sy keuse.
Bystandbatterye van alarm toestelle: Verbruikers moet veral seker wees wat die werklike bystandtyd is van batterye van alarmtoestelle as die krag af is. Dit kan gebeur dat die bystandtyd van die battery korter is as wat jy dink.
Saal de Jager van Parys Sekuriteit se raad is dat mense in tye van kragonderbrekings op hul alarm paneelbord sal seker maak dat daar nie ’n waarskuwing van ’n pap battery is nie. Moet ook nie ’n sms-boodskap van jou sekuriteitsmaatskappy ignoreer as daar gewaarsku word oor ’n pap battery nie.
Jou alarmstelsel se battery moet jou minstens 12 uur bystandtyd kan gee, sê De Jager. Indien nie, mag dit dalk ’n teken wees dat jy jou alarmstelsel se battery moet vervang. As jy onseker is, kontak eerder jou sekuriteitsmaatskappy en maak seker.
Volgens De Jager raak beurtkrag beslis ook alarmstelsels se batterye baie negatief en moes heelwat batterye vervang word in die tyd toe Suid-Afrikaners daagliks deur beurtkrag geraak is.
(Inligting voorsien deur Vaalrivier Makelaars en Parys Sekuriteit, asook plaaslike elektriëns).

Related Articles

Back to top button