News

Hinterland Parys groet sy ‘Mnr Google’

Hinterland gaan jou mis Piet, en so ook elkeen van jou kliënte wat jy oor die jare gehelp het.

Hulle noem hom nie sonder rede Hinterland se ‘Mnr Google’ nie. As jy iets wil weet, soek jy sy pet en die bekende gesig van Piet Motete tussen Hinterland Parys se rakke.
Of dit dompelpompe of besproeiing is, hardeware of veemedisyne – jy kon hoor dié verkoopsman ken sy storie. As hy nie kan help nie, bel hy blitsig om ‘n antwoord of ‘n produk by ‘n ander tak te kry, want hier stap geen kliënt weg sonder om gehelp te word nie.
Ná 37 jaar as verkoopsman by Hinterland ken Piet immers elke produk en elke rak soos die palm van sy hand.

Maar vandag, 30 Junie, sal hy vir oulaas kliënte by Hinterland bedien, want die tyd het gekom om te gaan rus. Piet het Sondag, 26 Junie, 60 jaar oud geword.
Sy 37 jaar by Hinterland het begin die dag toe hy klaargemaak het met skool. Oor die jare het hy naamsveranderinge beleef – van Sentraalwes, toe Senwes en nou Hinterland. Hy het twaalf bestuurders sien kom en gaan, maar deur al die veranderinge het Piet gebly. Nooit het hy ‘n enkele ongeskikte of moeilike kliënt gehad nie, vertel hy. Met elke bestuurder en elke personeellid het hy goed oor die weg gekom.
“Hinterland het my en my kinders grootgemaak,” sê hy. En wat sal hy sê wanneer hy vandag sy kollegas groet? “Hulle moet my kliënte mooi sorg,” sê hy ernstig.
“Daar is net drie dinge wat jy moet doen in hierdie lewe,” sê hy as hy oor sy werk gesels. “Like jou job, doen jou job, respect jou job.” As jy dit doen sal jy lekker werk. En Piet weet waarvan hy praat, want vir hom was sy werk sy trots, en sy kollegas soos familie.
Hy gaan nie nou stilsit nie. Daarvoor het hy nog té veel wat hy moet doen. Hy is besig om by sy huis te bou, en dan gaan hy ook nog gereeld hier by Hinterland kom inloer, want hy gaan die saamwerk met die mense hier mis. “En die hantering van die kliënte.”
Maar sy vrou is nou sy eerste prioriteit, sê hy. Sy het drie jaar gelede ‘n beroerte gehad, en noudat die kinders uit die huis is, moet hy na haar omsien – sy huweliksmaat van die afgelope 35 jaar.
Saam spog Piet en sy vrou nie net met hul vier kinders nie, maar is hulle ook oupa en ouma van vier kleinkinders.

The copyright to this information resides with The Parys Gazette and may be shared as a link to the original or refence to the author but may not be copied without the explicit permission of the author.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button