NewsNews

Kragstryd: Konstitusionele hof sal moet sê óf verbruikers só gestraf kan word

Terwyl verbruikers in Parys die afgelope week weer ongenadig gestraf is met ure sonder krag weens landwye Eskom beurtkrag, en munisipale rotasie beurtkrag, word daar steeds angstig gewag op die konstitusionele hofuitspraak om te bepaal of betalende verbruikers só gestraf kan word, aldan nie. Totdat die uitspraak in Eskom se aansoek om verlof tot appél …

Terwyl verbruikers in Parys die afgelope week weer ongenadig gestraf is met ure sonder krag weens landwye Eskom beurtkrag, en munisipale rotasie beurtkrag, word daar steeds angstig gewag op die konstitusionele hofuitspraak om te bepaal of betalende verbruikers só gestraf kan word, aldan nie.
Totdat die uitspraak in Eskom se aansoek om verlof tot appél teen ’n vroeëre uitspraak van die Hoogste Hof van Appél nie gegee is nie, beteken dit egter in effek dat die vroeëre bevel van die hof dat gedwonge munisipale beurtkrag nie in die Ngwathe en die Lekwa munisipaliteite toegepas mag word nie, dus nie geld nie, tensy daar weer ’n aansoek om ’n Mandamus (verplig) na die hof gebring word.
Parys se grootste krisis tans is dat Eskom slegs een van sy twee transformators in sy substasie in Parys in werking het. Dit beteken dat sodra die las op die netwerk té hoog raak, daar die risiko is vir skade aan die substasie soos in 2019 toe die dorp vir dae sonder krag was.
Hierbenewens weier Eskom om sy lank reeds verouderde maksimum elektrisiteitsvoorsieningsooreenkoms (NMD) met Ngwathe te verhoog. Tog is vir jare toegelaat dat die NMD oorskry is met boetes wanneer die perk oorskry word. Sedert 2011 was die Ngwathe munsipale raad herhaaldelik onsuksesvol in sy aansoek by Eskom om die NMD te verhoog. Eskom het vroeër aangedui dat aansoeke vir verhoging van NMD nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer.
Waar die dorp gedurende wintermaande minstens 24mVA benodig, is daar net 21mVA vir Ngwathe beskikbaar. Gevolglik laat dit tesame met die enkele Eskom-transformator, die munisipaliteit met geen ander keuse as om af te sit om ernstige skade in die substasie te verhoed.
Gedurende die winter van 2021 was Eskom se tweede transformator wel in werking gestel en kon daar gemakliker in die dorp se vraag voorsien word.
Die hof het Eskom in 2020 aangesê om sy tweede transformator in sy substasie in Parys te herstel, en was dit gedoen teen Februarie 2021, maar is die tweede transformator nie tans in werking gestel nie.
Met twee transformators behoort die dorp ’n geïnstalleerde vermoë van 40mVA by die Eskom-substasie te hê, maar met die bestaande NMD van 21mVA en een transformator is Parys nou in presies dieselfde kraglose bootjie as toe die Vaal River Developement Association (VRDA) hom in Augustus 2020 namens die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskaps Aksie, en die Lekwa Belastingbetalersvereniging, tot die hooggeregshof gewend het met ’n dringende aansoek om ’n stokkie te steek voor Eskom se eensydige afdwinging van munisipale beurtkrag wat inwoners van Parys soms tot 6 en meer ure sonder krag gelaat het, en vererger word met nasionale beurtkrag wanneer dit bykomend tot munisipale beurtkrag toegepas word.
Dit het ’n vernietigende uitwerking op sakeondernemings, die plaaslike hospitaal, tehuise vir bejaardes, die dorp se water- en rioolwerke wat geen bystand kragsteun het nie, en die gewone verbruiker. Die afgelope week weer het Unisa-studente wat tans eksamen skryf hande in die hare gesit met die knaende kragonderbrekings, en kan klein besighede en toerisme waarvan die dorp afhanklik is, net nie oorleef nie.
Eskom is met die aanvanklike hooggeregshof uitspraak in 2020 deur waarnemende regter Anthony Millar met ’n interim hofbevel verbied om verdere kragvermindering in Parys en Vredefort toe te pas, en gesê om sy transformator te herstel. Daarna het Eskom aansoek om verlof tot appél teen die hofbevel ingedien, waarna die saak later ook in die Hoogste Hof van Appél gaan draai het.
Maar die stryd was ten spyte van die Hoogste Hof van Appél se uitspraak ten gunste van verbruikers, steeds nie verby nie, en het Eskom toe aansoek om verlof tot appél na die Konstitusionele hof gedoen.
Die Konstitusionele hof het in Mei met sy sitting oor gedwonge munisipale beurtkrag, uitspraak voorbehou.
Wat wel uit vrae en argumente met die Konsitusionele hofsitting duidelik was, was dat die onus op staatsdepartemente rus om hul geskille onderling te besleg, en die prima faci reg van verbruikers ten opsigte van basiese dienslewering wat elektrisiteitsvoorsiening insluit. Dit beteken dat die verbruiker nie gestraf kan word vir munisipaliteite se onvermoë nie.
Verlede jaar is kragtoevoer ook in Junie skielik weer vir die eerste keer na die winter van 2020 in die dorp toegepas. Soos die afgelope week die geval was, is die beurtkrag ook direk na die dorp se tydgleuf vir landwye Eskom beurtkrag geïmplementeer omdat die verbruikslading op die kragnetwerk té hoog was.
Die kragreus het in die verlede gewys dat hy min simpatie het met munisipaliteite soos Ngwathe wat agterstallige skuld het.
Ngwathe se enorme skuld aan Eskom was juis die rede waarom Eskom vroeër geweier het om die tweede transformator te herstel deur toe sy enkele “werkende” transformator teen oorlading te beskerm deur eenvoudig die kragtoevoer te sny sou Ngwathe die 20mVA, wat die werkende transformator voorsien het, oorskry.
Wat egter ook baie duidelik is uit hierdie krisis, is dat Ngwathe maande ná die eerste uitspraak van die Hooggeregshof ook steeds nie sy huis in orde het nie, die kragnetwerk uiters broos is weens diefstal, swak instandhouding en sabotasie, die groot aantal onwettige koppelings, en die munisipaliteit se onvermoë om die kragreus te kan betaal.

Maar betaal gaan jy betaal
Of die ligte aan is óf nie – verbruikers in Ngwathe sal vanaf 1 Julie 12,8% meer vir elektrisiteit betaal, onderhewig aan Nersa-goedkeuring.

En terwyl verbruikers in die donker sit, swyg Eskom nog:
Gazette het Eskom gevra vir antwoorde oor waarom die tweede transformator in sy substasie in Parys nie in werking gestel is nie? Geen antwoord is teen Gazette se druktyd ontvang nie, maar sal bygewerk word sodra Eskom ‘n verklaring uitreik.

The copyright to this information resides with The Parys Gazette and may be shared as a link to the original or refence to the author but may not be copied without the explicit permission of the author.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button