NewsNews

‘‘n Miljoenêr kan nie voel soos ek nie”

“Het jy geweet dat die geldjie waarmee jy ‘n Coke koop, ‘n truitjie vir ‘n kind kan brei?,” vra sy so terloops toe ek loop.

Haar hande ken hul pad soos die wol deur haar vingers vleg. Met elke beweging van die breipenne word die steke bygelas. Netjies in gelid. Vir ure aaneen om kinderlyfies warm te hou. “Haar Gods akkertjie waar sy werk,” vertel die 87-jarige Engela van Greuning waar sy in haar stoepvertrek in die winterson sit en brei.


Haar hande nooit stil nie. Solank daar wol is sal sy brei, want geen kind mag ooit sonder trui, mus of handskoene in hierdie koue wees nie.
Sy vertel dat sy iets wou doen vir die Here en die antwoord was dat sy dit moet gebruik wat sy het. En brei kan sy. Sy was agt jaar oud toe haar ma, wat self die mooiste babatruitjies en komberse kon brei, haar leer brei het.
Met breipenne gemaak van bloudraad het sy haar eerste paar kouse vir haar pa gebrei, want breinaalde was skaars daardie jare. Later het haar skoonma haar ook leer hekel.
Sedertdien het sy nooit ophou brei en hekel nie. Haar ma se breipatrone haar kosbare kleinood.
Al haar en haar oorlede man, Willem, se klere het sy self gemaak.
Op ‘n dag toe sy so sit en brei, wou hy hê dat sy hom ook moes leer. Só het hy net soos sy lief geraak vir brei – hy met die masjien, sy met die hand. Sy moes altyd vir hom die steke opsit en die eerste ry brei, maar hy het die breiery sommer vinnig gesnap, vertel sy trots. Na sy dood het sy voortgegaan met die breiery. Sy kouspatroonboek nóg een van haar kosbare besittings.
“Ek is lief vir alles wat ek met my hande kan doen,” gesels tannie Engela. Of dit die fynste borduurwerk, houtsneewerk of teëlwerk is – haar hande staan vir niks verkeerd nie. Dit is nou behalwe kniewerk, want die deeg wil net nie rys nie, lag sy.
Haar pa was ‘n bouer van beroep en by hom het sy geleer. “Vir my is sement soos parfuum,” sê sy, en wys na die teëls in haar meenthuis wat sy self gelê het. Beurtkrag pla nie – ook daarmee het sy self planne bedink, want tot laatnag moet haar breinaalde werk.

“Dit is soos die weduwee se kruik,” sê sy en wys na die R1 munt in haar breiblikkie – sy laaste geldjie wat ‘n seuntjie eendag vir my gegee het vir sy truitjie. “My lucky coin”.
“Net gister weer het ek R110 gekry vir wol,” sê sy. En wat sy kry gaan net so in die blikkie. Sy vra nooit geld vir wat sy brei nie, net ‘n donasie, en geld vir wol is daar altyd, “want Hy voorsien.”
“‘n Miljoenêr kan nie voel soos ek voel as hulle die truitjies vir die kinders kom haal nie.” Skole, kerke – waar ook al nood is, en ‘n kinderlyfie wat warm gehou moet word – daar gee sy.
“Het jy geweet dat die geldjie waarmee jy ‘n Coke koop, ‘n truitjie vir ‘n kind kan brei?,” vra sy so terloops toe ek loop.

The copyright to this article resides with The Parys Gazette and may be shared as a link to the original or refence to the author but may not be copied without the explicit permission of the author.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button