News

Lang arm van die gereg net té lank

Lang arm van die gereg net té lank

Vier vermeende koperdiewe tussen die ouderdom van 33 en 61 jaar het hulle Vrydag, 3 Junie behoorlik in die lang arm van die gereg vasgeloop.
Lede van die Vredefort-polisie het inligting opgevolg oor ‘n verdagte wit Toyota bakkie wat op die R59 van Viljoenskroon in die rigting van Vredefort beweeg. Volgens kapt. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder vir die Fezile Dabi-distrik, het die stasiebevelvoerder, kapt. Mohau Phera, en reservis-konstabel Teslane Pekane, die voertuig sowat ‘n kilometer buite Vredefort opgemerk.
Die bakkie is by die ingang na die dorp met die hulp van ao. David Petzer, ao. Machini Thabe en ao. Sello Ralekgetho voorgekeer. Dit was gelaai met koperkabel. Al vier die verdagtes, waarvan drie plaaslike inwoners is, en een wat van Mosambiek afkomstig is, is in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op die bakkie, en 751,5kg se koperkabel met ‘n geraamde waarde van R120 960. Daar is bevestig dat die kabel Transnet-eiendom is, het kapt. Khosana gesê.
Die vier verdagtes is vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom aangekla, en moes Maandag, 6 Junie in die landdroshof in Vredefort verskyn.

Die Toyota bakkie met die gesteelde koperkabel waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

In nog ‘n voorval dié week het ‘n man by ‘n vulstasie in Parys sy motor vol brandstof gemaak, en toe weggery sonder om te betaal. Security Master personeel wat besig was met patrollie, het by die vulstasie gestop, waarop die petroljoggie hulle van die voorval verwittig het.
Die voertuig wat in die rigting van Sasolburg weggejaag het, is agternagesit. Nadat die verdagte kat-en-muis in die jaagtog probeer speel het tot by Vaalpark, het hy omgedraai, en toe by Sasolburg ingedraai. Toe hy weer uit die dorp in die rigting van Parys wou beweeg, het hy beheer oor die voertuig verloor en van die pad af gery. Die verdagte is aan die Sasolburg-polisie oorhandig wat vinnig op die toneel was.

Die voertuig waaroor beheer verloor is tydens ’n jaagtog nadat brandstof ingegooi is waarvoor nie betaal is nie. Foto: Verskaf

Petroljoggies is weer ná die voorval gevra om bedag te wees op voertuie sonder nommerplate, en verdagte bewegings.
Oor die naweek moes We Care-personeel ook hulp verleen op ‘n toneel in Parys se hoofstraat toe ‘n vragmotorbestuurder van sy eiendom beroof is toe hy stilgehou het. Hy kon daarin slaag om die verdagte by die Breë- en Van Collerstraat-kruising vas te keer, waar hy sy selfoon, trui en brandblusser teruggekry het.

Related Articles

Back to top button