

“Ons eer vandag sy nagedagtenis. Ons salueer adjunkhoofleier Johan Laubscher as ‘n Voortrekker in murg en been. Hou koers dan tot ons weer ontmoet.”
Só het Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Voortrekkers in die Vrystaat vanoggend geskryf in sy boodskap aan die Voortrekkers net enkele ure voordat daar afskeid geneem sal word van die Voortrekkers se Verkenner-adjunkhoofleier, Johan Laubsher. Hy is op 1 Junie in die ouderdom van 57 jaar in Otjiwarongo oorlede.
Die dankdiens word om 14:00 vanuit die NG Kerk Randburg gehou. Die diens word ook herlei na die NG Kerk Eros in Windhoek en kan gevolg word op www.facebook.com/ngkerkrandburg/live
Johan se skielike dood het ‘n groot leemte by die Voortrekkers gelaat.
Hy sal onthou word vir sy vriendelike geaardheid en liefde vir die kinders, sê Engelbrecht.
Johan kon altyd lekker gesels en het werklik belang gestel in elkeen se omstandighede en menswees.
“Hy sou altyd persoonlik verjaardagwense gee en het deurentyd belang gestel in Doornkloof en die Vrystaatse mense.”
Johan was ‘n sielsgenoot, ‘n man en pa duisend, broer, vriend, kollega, neef en maat wat in liefdevolle herinnering onthou sal word.
Die Voortrekkers se hoofdagbestuur het vroeër die besluit geneem dat die Voortrekkervlag by alle kampe en aktiwiteite halfmas sal hang tot 18 Julie wanneer dit Johan se verjaardag sou wees.



At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



