News

Baie worstel met skuldlas, té min voorsiening vir aftrede, angs en eensaamheid

Dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van navorsing, programme en opleiding, het benadruk dat die maatskaplike uitdagings nie net een organisasie, een kerk, of een gemeenskap se uitdagings is nie, maar dat dit elke organisasie, elke kerk en veral elke gemeenskap se verantwoordelikheid is om hulle gemeenskapskrag te ontgin en oplossings vir hierdie uitdagings te vind.

 

Onvoldoende voorsiening vir aftrede, om van jou skuldlas ontslae te raak, angs, eensaamheid en middelafhanklikheid is van die grootste krisisse wat Afrikaners vandag ervaar.
Navorsing wat deur Helpende Hand gedoen is onder 15 363 respondente uit 438 dorpe en stede landwyd het gewys dat alle Afrikaners ‘n vorm van maatskaplike krisis in die gesig staar, en dat dit deur die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika versnel is. Die navorsing het ook gewys dat dié tendens in alle gemeenskappe – arm en ryk, in stede en op die platteland – dieselfde is.
Data vir die navorsing is van Augustus tot Desember 2021 ingesamel.
Hannie Viljoen, hoof van navorsing by Solidariteit Helpende Hand, het met die terugvoer oor die navorsing gesê dat dit nie net noodwendig armoede is nie, maar maatskaplike uitdagings wat arm, middelklas en ryk Afrikaners bedreig.
“Die navorsing wys daarop dat verskeie maatskaplike uitdagings, verskillende groepe Afrikaners bedreig, en nie volgens ‘n bankrekening diskrimineer nie,” het sy gesê.
Die ernstige krisisse is finansieël en maatskaplik.
Altesaam 60% van Afrikaners het nie voldoende aftreevoorsiening nie:
Uit die respondente wat ondervra is, het nagenoeg 22% (3 380) geen voorsiening vir aftrede nie, en 6% (922) van die respondente het reeds afgetree, maar het nie voldoende aftreefondse nie.
‘n Geweldig lae inkomste is vir baie ‘n groot uitdaging:
• 23% (byna 1 uit 4) van die respondente se gesamentlike huishoudelike inkomste beloop minder as R14 000 per maand, waarvan 8% van die respondente R4 000, of minder per maand per huishouding verdien.
• 57% van die respondente is, na Covid-19, finansieel slegter af as drie jaar gelede.
• 40% van die respondente se inkomste is nie voldoende om hulle uitgawes te dek nie.
‘n Derde groot uitdaging blyk ‘n hoë skuldlas te wees:
• 59% van die respondente het ʼn behoefte om uit die volgende vorm van skuld te kom:
-38% voedsel of munisipale skuld
-37% kredietkaartskuld
-36% motorskuld
-34% huisverbande
-’n Kommerwekkende 10% drankskuld
-3% skuld aan woekeraars, oftewel ‘loan sharks’.
Respondente wat na ander volwassenes moet omsien, dra tot die finansiële krisis by.
• 17% sien om na bejaarde ouers
• 11% sien om na ander volwassenes
• 8% onderhou volwasse kinders
Gesondheidsorg blyk ook vir baie ‘n uitdaging te wees:
• 20% (1 uit 5 respondente) behoort aan geen mediese fonds nie.
• 21% van die respondente het aangedui dat hulle soms of gereeld nie die nodige medikasie kan bekostig nie.
Die grootste gesondheidsuitdagings is lewenstylsiektes:
• 41% het bloeddrukprobleme
• 29% ly aan hoë cholesterol
• 24% ly aan depressie, of het slaapprobleme
Op maatskaplike gebied beleef respondente die volgende uitdagings in hulle gemeenskappe:
• Eerstens, emosionele kwessies:
-54% ly aan angs
-53% ly aan depressie
-47% het aangedui dat hulle eensaam is
• Verslawingskwessies:
-26% drankmisbruik
-16% dwelmafhanklikheid, ander middels, of pornografie
-13% selfbesering
• Verhoudingskwessies:
-49% beleef huwelikskonflik
-14% beleef blootstelling aan gesinsgeweld, of seksuele misdade
-12% het kinderverwaarlosing aangedui
En soos te wagte, het finansiële uitdagings gelei tot 38% werksverlies en 27% voedseltekort. Opleiding is deurgaans as ‘n uitdaging uitgewys.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het by die geleentheid gesê die slotsom waartoe Helpende Hand in die navorsing gekom het, en aspekte waaraan dringend aandag geskenk moet word is:
• Finansiële opleiding en kennis om die groot skuldlas onder Afrikaners te verminder en te vermy, asook om behoorlike aftreevoorsiening vir die toekoms te maak.
• Die voorkoming, hantering en behandeling van onder meer angs, depressie, eensaamheid en substansafhanklikheid soos dwelm- en alkoholverslawing.
• Opleiding is dringend nodig.
“Die tyd om iets te doen is nie eers volgende jaar, volgende maand, of selfs môre nie, maar vandag. Elkeen van ons moet vandag hier uitstap en weet ek gaan ‘n verskil in my gemeenskap maak, want dit is vandag belangrik om vir môre ‘n toekoms te skep. Verandering begin vandag, by mý,” het Noëth gesê.

Related Articles

Back to top button