Pajama-pret by verlede week se parkrun: Kom jy saam stap/draf vanoggend
Trek aan jou tekkies en kom stap of draf saam vanoggend (Saterdag 4 Junie)

Kleurvollle kouse, bont pajamas en snoesige warm japonne het gesorg vir ‘n prettige en ongewone gesig by die Egweni River Lodge parkrun waar daar Saterdagoggend vir die weeklikse parkrun weggespring is.
Die onverwagse warm weer Saterdag was beslis ‘n bonus en het verskeie parkrunners van ander parkrun-omgewings soos Pretoria en Potchefstroom, saam met ‘n paar gereelde plaaslike deelnemers weggespring. Deelnemers het die pragtige, lowergroen omgewing teenaan die rivieroewer geniet, al het die pajamas en japonne in die warmer weer vir sommige die sweet laat aftap.

Dankie aan al die vrywilligers wat gehelp het by die parkrun en sonder wie die weeklikse aanbied van ‘n parkrun nie moontlik sal wees nie.
Met Saterdag se parkrun was daar oulike pryse op die spel vir die parkrunners wat die tema vir die dag die beste uitgebeeld het. Die wenners het elkeen ‘n sakkie vir hul selfone ontvang wat spesiaal vir drawwers ontwerp is.
Onthou parkrun is gratis, goeie oefening en boonop bied die Egweni River Lodge parkrun ‘n werklik besonder mooi roete vir deelnemers. Al wat jy moet doen is om te sorg dat jy op ‘n Saterdagoggend om 08:00 by Egweni River Lodge in Van Collerstraat is waar daar weggespring word. Gaan kyk gerus na die Egweni River Lodge parkrun se Facebook-blad vir meer inligting.






