News

Parys-kleuters reik uit na 5-jarige Marno ná glyplank-ongeluk

Kleuters bid saam vir Marno

Personeel en kleuters van die Reënboog Dagsorg- en Tutor sentrum in Parys sal hierdie Vrydag, 3 Junie uitreik na die 5-jarige Marno Muller en sy ouers met hul “Hartjie vir ’n maatjie”-projek.
Marno het teen Gazette se druktyd steeds geveg om sy lewe in die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg, ná ’n fratsongeluk by sy kleuterskool in Brakpan.
Die ongeluk het verlede week gebeur toe Marno van ’n glyplank by die skool afgegly, en die toutjies van sy baadjie se kappie vasgehaak en om sy nek gespan het, soos wat Marno gegly het.
Klein Marno is eers na die Life Dalview-hospitaal geneem en het hy by sy aankoms by die hospitaal nie ’n hartklop of polsslag gehad nie. Hy is later oorgeplaas na die Netcare Garden City-hospitaal waar hy tans aan ’n ventilator en hartmasjien gekoppel is.
Marno is steeds onder verdowing weens die swelling op sy brein. Hy is Saterdag geopereer om ’n tipe stent in te sit weens die breinswelling.
Sy ouers het net ’n hospitaalplan en is minstens R350 000 nodig vir sy behandeling. Die organisasie Hemelse Pêrels, ’n organisasie sonder winsbejag, het intussen begin geld insamel vir Marno se behandeling.
Met die Hartjie-vir-’n-maatjie projek sal Parys se kleutertjies ook help om Marno se gesin finansieël te ondersteun met strikkies wat teen R5 ’n strikkie verkoop word. Die geld wat dan met die strikkie-verkope ingesamel word, sal direk in die gesin se rekening inbetaal word.
Daar sal ook die oggend by die sentrum saam vir Marno gebid word, en wit en blou helium balonne losgelaat word met die kleutertjies se boodskappe vir Marno.
Van die sentrum se graad R-maats is reeds besig om vir hom prentjies te teken wat saam met ’n teddiebeer vir sy ouers afgelewer sal word.

Mense wat graag ’n strikkie wil koop om die gesin te ondersteun kan vir Mari-hette Jonker skakel by 084 418 6301.
Marno se tannie, Nadia Minnie kan ook geskakel word by 078 249 1971, sou mense die gesin wou ondersteun.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button