Potchefstroom – Met die prys van brandstof wat die hoogtes inskiet het werknemers by Jonker Sailplanes die inisiatief geneem om ‘n alternatiewe vervoeroplossing te vind.
58 werknemers het besluit om in reaksie op stygende brandstofpryse vir hulle werkgewer, Jonker Sailplanes, te vra om met die aankoop van fietse vir daaglikse vervoer te help.

Jonker Sailplanes het toe ingestem en werknemers kon hulle fietse self kies. Die groot dag het op Vrydag, 13 Mei aangebreek toe hulle met hul nuwe fietse verras is. Dit was moeilik om die glimlagte van hulle gesigte af te haal.
Werknemers betaal dan oor ‘n tydperk deur middel van ‘n transportskema af aan hulle fietse, wat die werk aangekoop het. Met hierdie inisiatief werk dit dan baie goedkoper as publieke vervoer uit.
Op hierdie manier is die werknemers se finansiële las ligter, hulle kry goeie oefening in en het ‘n nuwe fiets wat hulle kan oppas en gebruik om gemakliker van punt A na B te kan reis.






