News

Hoe gemaak met onwettige besetting van munisipale grond? Hoe raak dit jou

Om ontslae te raak van ongewenste huurders, huurders wie se huurkontrak verstryk het, of mense wat ‘n eiendom/perseel onwettig okkupeer, is op sigself ‘n nagmerrie vir grond/gebou eienaars Maar in uitdagende ekonomiese tye met gepaardgaande sosio-ekonomiese probleme soos ons nou beleef, is daar egter ook toenemend kommer oor mense wat huisvesting vind op straat, en in tente op leë erwe, parke, langs die rivieroewer, agter pompstasies, en selfs op half beboude persele.

 

 

Huiseienaars is bekommerd oor wat dit aan eiendomswaarde kan doen, afgesien daarvan dat geen ablusiegeriewe beskikbaar is vir mense wat hier vir hulself ‘n tuiste maak.
Eiendomsagente stem saam en sê dit het beslis ‘n indirekte invloed op die waarde van eiendom. Dit skrik voornemende kopers af, sou die probleem in die onmiddellike omgewing van die eiendom wees wat in die mark is.
Wanneer dit by onwettige okkupasie van residensiële eiendom in ‘n munisipale gebied kom, is die Prevention of Illegal Evection from, and Unlawful Occupation Land Act, van toepassing, en die Exten- sion of Security Tenure Act in die geval van landbougrond.
In die meerderheid van gevalle van onwettige okkupering moet die grond- of gebou eienaar hom/haar dan tot die hof wend vir ‘n uitsettings en verwyderingsbevel wat ‘n langdurige en duur hofstryd kan word. Eers moet ‘n ex parte aansoek vir die voorneme van uitsetting in terme van die bogenoemde wette na ‘n plaaslike hof gebring word, sonder kennisgewing aan die ander party. Die hof reik dan ‘n bevel uit om te sê hoe die uitsettingsaansoek beteken moet word op die onwettige okkupeerder, asook die munisipaliteit ter kennisname van die aansoek. Daar is dan geleentheid om die aansoek teen te staan.
Maar in die geval waar munisipale grond sonder toestemming okkupeer word, moet die munisipaliteit as grondeienaar die aansoek na die hof bring.
Gazette het navraag oor die kwessie gedoen by Christo Smith van Christo Smith Prokureurs ingelyf, Nelspruit, wat spesialiseer in eiendomsreg en meer spesifiek die uitsettingsreg en huurreg. Christo is ook die outeur van die Butterworths LexisNexis publikasie, Eviction & Rental Claims: A practical guide. Hy antwoord as volg:
Die probleem is kompleks hoofsaaklik as gevolg van die onwilligheid en onvermoë van plaaslike owerhede om stappe te neem om sulke probleme op te los.
1. Het grondeienaars van aangrensende grond regte in die verband?
Ja. As die plakkery op ‘n grondeienaar se eie grond is, geld die gewone wetgewing ten opsigte van uitsetting. Die eienaar moet ‘n prokureur raadpleeg en stappe neem.
As die plakkery op aanliggende grond is, en dit veroorsaak ‘n oorlas vir die aanliggende eienaar, het die eienaar ook regte, maar dit sal meer setel rondom stappe wat hy/sy kan neem om die munisipaliteit of die eienaar van die grond waarop geplak word, te verplig om stappe te neem. Uiteraard sal mens ook in daardie geval ‘n prokureur moet nader.
2. Wat staan mense wat belang het hierby te doen – moet daar as gemeenskapsorganisasies of individue ‘n aansoek tot die hof gebring word?
Ja, dit behels ‘n hofaansoek. Die plaaslike owerheid moet gedwing word om stappe te neem.
3. Wat bepaal die wet is die posisie van onwettige okkupeerders as daar reeds ‘n struktuur bv. ‘n tent opgerig is
Die regspraak oor okkupasie waar daar reeds strukture opgerig is, is dat daardie okkupeerders reeds regte verkry het, nie regte om te okkupeer nie, maar regte om aanspraak daarop te maak dat die proses soos statutêr voorgeskryf, gevolg moet word. ‘n Hofbevel is al wat sal deug.
4. Het die polisie enige magte in terme van verwydering in die gevalle?
Ja. In meeste gevalle sal dit betreding wees, want dit sal in stryd wees met ‘n verordening, en dit is hier waar bywette ter sake kom. As die plaaslike owerheid verordeninge (bywette) het oor parke en openbare ruimtes, sal daardie verordeninge waarskynlik bepalings bevat wat plakkery op parkgrond verbied. Dit is egter twyfelagtig of plaaslike owerhede, om die redes voormeld, sal optree. Daar kan moontlik by die hof aansoek gedoen word vir ‘n mandamus teen die munisipaliteit – dit is ‘n bevel wat hulle gelas om op te tree en hulle plig na te kom.

Related Articles

Back to top button