News

Grondwetlike Hof moet nou sê oor munisipale beurtkrag

Grondwetlike Hof moet nou sê oor munisipale beurtkrag

 


Nadat die land se Hoogste Hof van Appèl in Januarie vanjaar beslis het dat Eskom nie meer gedwonge munisipale beurtkrag in die Lekwa en Ngwathe munisipaliteite kan toepas nie, beroep dié kragreus hom nou op die Grondwetlike Hof met ‘n aansoek om appél teen die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl. Die saak word op 23 Mei aangehoor.
Die Hoogste Hof van Appèl het vroeër ná ‘n hofstryd van langer as ‘n jaar Eskom se appèl met koste van beide die advokate van die hand gewys toe daar ten gunste van die Lekwa Belastingbetalersvereniging en die Vaal River Development Association (VRDA) beslis is.
Die uitspraak het daarop neergekom dat verbruikers in hierdie munisipaliteite nie langer gestraf kon word vir munisipaliteite se onvermoë om hul diensterekening aan die kragreus te betaal nie.
Verbruikers kan nie só gestraf word nie
Eskom het met gedwonge munisipale beurtkrag telkens die swaard oor Ngwathe se kop gehou deur die toepassing van ‘n verouderde en lank reeds onvanpaste maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsieningsooreenkoms (NMD). Dit terwyl die NMD vir Ngwathe meer as tien jaar laas aangepas is, ten spyte van dorpsuitbreiding en kommersiële ontwikkeling.
Só het Eskom die munisipaliteit gedwing tot rotasie-beurtkrag wanneer 95% van die NMD gebruik is.
Tydens die appèlverhoor einde 2020 het adv. Shangisa (SC) namens Eskom, verduidelik dat NMD deur die kragreus ingestel word om Eskom-toerusting te beskerm.
Tog is dit vir jare toegelaat dat die NMD oorskry is met boetes wanneer die perk oorskry word.
Sedert 2011 was die Ngwathe munsipale raad herhaaldelik onsuksesvol in sy aansoek by Eskom om die NMD te verhoog.
Eskom het vroeër aangedui dat aansoeke vir verhoging van NMD nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer.
Parys se jarelange kragstryd weens sy enorme agterstallige skuld aan die kragreus, is in 2020 op die spits gedryf toe sakelui en inwoners van Parys swaar gebuk gegaan het onder gedwonge munisipale beurtkrag telkens wanneer elektrisiteitsverbruik naby aan die NMD-perk was.
Die munisipale beurtkrag waartoe Eskom Ngwathe gedwing het, is boonop ook toegepas in tye wanneer die kragreus self nasionale beurtkrag ingestel het. Die katastrofiese gevolg was dat sakelui en inwoners wat meerendeels voorafbetaal vir krageenhede, soms vir tot agt ure per dag sonder krag was, terwyl inwoners ‘n reg tot basiese dienslewering het wat elektrisiteitvoorsiening insluit.
Adv. Danie Wijnbeek het tydens die aanvanklike aanhoor van die saak voor waarnemende regter Millar in 2020, namens die applikante aangevoer dat Eskom se enigste risiko finansieel is, terwyl ‘n gemeenskap wat aan die plaaslike owerheid betaal, swaar deur munisipale beurtkrag geraak word.
Daar is ook gewys op die besoedelings- en gesondheidsgevaar wanneer rioolpompe en waterpompe nie werk nie, en rou riool in die Vaalrivier beland. Wanneer pompe nie werk nie, veroorsaak dit ook watertekorte in die dorp, en was kragonderbrekings onder meer die rede waarom fabrieke en ondernemings uit gebiede onttrek.

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button