News

Só sal besit, verkoop en afvuur van vuurwerke nou beheer word

Ngwathe kry vuurwerke bywet

Die munisipale raad van Ngwathe het op ‘n vergadering Dinsdag ‘n Bywet aanvaar wat na promulgasie daarvan die besit, verkoop en afvuur van vuurwerke in die munisipale gebied sal reguleer en beheer.

Die stap is geneem op inisiatief van VF Plus raadslid Phillip van der Merwe, prokureur van Heilbron wie ‘n ou beleidstuk, wat geen strafmaatreëls bevat het nie, verwerk het en omskep het in ‘n konsep Bywet wat na promulgasie daarvan die gebruik van vuurwerke sal beheer.

Volgens raadslid van der Merwe kla lede van die gemeenskap, veral organisasies wat dierebelange beskerm, reeds lank oor die gebrek aan beheer oor klappers en ander vuurwerke. Dit is algemeen bekend dat die skiet van klappers nie alleen traumatiese effekte op veral honde het nie, maar ook deur vele inwoners as uiters steurend ervaar word.

Die Bywet maak voorsiening daarvoor dat enige persoon of instansie wat vuurwerke wil afvuur of verkoop binne die munisipale gebied dit slegs sal kan doen indien op aansoek, teen betaling van ‘n aansoekfooi van R 1 000,00 plus BTW en nadat ‘n permit wat dit magtig deur die munisipaliteit uitgereik is.

‘n Boete van tot R 10 000,00 of gevangenisstraf van tot 12 maande sal deur ‘n Hof opgelê kan word by skuldigbevinding van ‘n oortreding van die Bywet wanneer dit van krag word.

Die Bywet word nou onderwerp aan die openbare deelname proses wat toepalik is voordat enige munisipale Bywet gepromulgeer word en lede van die publiek mag insette of kommentaar daarop lewer. Dit kan per epos gestuur word aan jordaanr@ngwathe.co.za of per hand by enige munisipale kantoor ingehandig word.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button