

Drie mans is in die Bethulie streekhof tot effektief 30 jaar gevangenisstraf elk gevonnis nadat hul skuldig bevind is aan diefstal van 12 Narada batterye ter waarde van R78 000 wat aan Vodacom behoort, en die beskadiging van ‘n Vodacom selfoontoring naby Springfontein.
Patrick Chirambandare (34), Washington Khoza (32) en Cliff Hove (28) is in die hof elk 15 jaar gevangenisstraf opgelê vir die diefstalklag, en nog 15 jaar vir die beskadiging van belangrike infrastruktuur.
Die polisie is op 9 Junie 2021 uitgeroep na ‘n toneel langs die N1 nadat boodskap ontvang is dat daar gepeuter is by twee selfoontorings.
Die polisie en sekuriteitspersoneel het hierop die diewe op heterdaad betrap en die batterye by hulle gekry. Beslag is ook gelê op ‘n wit Toyota bakkie wat gebruik is tydens die misdaad.
Die staatsaanklaer Leon Ehlers, het die hof gevra vir swaar strawwe vir die beskuldigdes omdat die beskadiging van infrastruktuur soos hierdie ernstige gevolge vir Suid-Afrikaners inhou.




