NewsNews

‘Ek is trots op die skool wat ek agterlaat’

‘Ek is trots op die skool wat ek agterlaat’

Vrydag 29 April sal mnr. Herman Malan, adjunkhoof van die Hoërskool Parys, die laaste keer sy kantoor se deur ná ‘n loopbaan van meer as 37 jaar toetrek. Ses en twintig jaar hiervan as deel van die bestuur van Hoërskool Parys.

Heman Malan

‘n Man vir wie onderwys meer was as ‘n beroep. ‘n Roeping wat hy uitgeleef het in die klaskamer, want dit was hier waar hy sy ongelooflike passie en liefde vir sy vakgebied ‘bedryf’ het.
Hy was nie een vir handboeke nie, maar iemand wat die wetenskap prakties kon verduidelik.
“Mens raak lief vir die kinders,” vertel hy as hy sê dat die grootste vervulling in sy onderwysloopbaan nog altyd was om kinders te kon help. Om in die klaskamer te kon staan.
“Om seker te maak dat die skool gebalanseerde jongmense in ‘n volwasse wêreld kan uitstuur waar hulle suksesvol is, en om as mentor vir ander leerkragte op die personeel en ander onderwysers in sy vakgebied te kon dien. Dit is die beste getuigskrif wat enige skool kan hê.”
En aan hierdie getuigskrif het Herman help skryf vir die honderde kinders wat oor jare in sy kantoor of klaskamer gesit het, en vir wie hy afrigter was op die atletiekveld, rugbyveld en krieketveld.
Hy het ook vir baie jare met sy betrokkenheid by die skool se skoolleiers, leiers vir die toekoms help ontwikkel.
“My kleinmensdroom was veearts-wees,” vertel hy, maar hoewel hy keuring gekry het, was daar nie daardie jare geld vir hom om veeartsenykunde te kon gaan studeer nie.
Só beland die boorling van Bloemfontein by die Universiteit van die Vrystaat waar hy B.Sc. studeer, maar sou dit uiteindelik sy liefde vir kinders wees wat sy dryfveer word om ook sy onderwysdiploma te verwerf.
Nadat hy vir ‘n kort tydperk betrokke was by onderwysopleiding by die Vrystaatse Universiteit, aanvaar hy sy eerste onderwyspos in 1987 by Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein.
Net ‘n jaar later kruis sy paaie op ‘n dag met wyle mnr. Sarel de Jager, eertydse hoof van Hoërskool Parys en sy destydse atletiek- en rugby-afrigter.
De Jager was toe hoof op Zastron en was op pad Parys toe waar hy die pos as hoof aanvaar het. In die gesels het Herman gesê dat hy nie sou omgee om in Parys skool te hou nie. En só het hy die oproep later gekry om Parys toe te kom as biologie onderwyser.
Oor die jare het hy naas biologie wat sedert 2008 as die vak lewenswetenskappe bekend is, ook fisiologie en rekenaarstudie as matriekvakke aangebied, asook met wiskunde en wiskunde geletterdheid “uitgehelp”.
In 1998 word hy departementshoof, en in 2012 adjunkhoof van Hoërskool Parys.
Vir hom het nie net die skool se akademiese prestasies nie, maar ook die prestasies van leerders op sport- en kultuurgebied oor die jare uitgestaan. Veral die Beeld-trofee wat die skool se eerste rugbyspan in 2005 omhoog kon hou, en daarmee geskiedenis gemaak het deur die eerste Vrystaatse skool te word wat die trofee kon verower, neem hy met hom saam as van die hoogtepunte van sy onderwysloopbaan.
Nie net was hy afrigter van die span ten tyde van die oorwinning nie, maar was elkeen van hierdie seuns met wie hy die pad geloop het vandat hulle as o.14’s op die veld gedraf het, vir hom soos eie kinders.
Vir 21 jaar het hy die skool se eerste krieketspan afgerig en was hy smiddae ook op die atletiekveld as afrigter op sy pos. Ook hier het hy sy lewensbeskouing uitgeleef dat wanneer jy iets doen, jy dit óf goed moet doen, óf glad nie.
Hy was self op skool en universiteit ‘n veelsydige sportman, maar ook iemand met ‘n liefde vir kultuuraktiwiteite – van koor sing tot redenaars en Voortrekker-wees. Dit is hierdie wye ervaringsveld, wat die fondasie gelê het vir hom om ook te kon help bou aan gebalanseerde jongmense vir wie hy nie net in die klaskamer nie, maar ook met buitemuurse aktiwiteite ‘n mentor moes wees. Volgens hom was alles wat hy gedoen het die moeite werd omdat die ervaring hom voorberei het vir die uitdagings wat hy daagliks moes bestuur.
Maar nou het die tyd vir hom aangebreek om die tuig neer te lê. Hy en sy vrou, Jenny, gaan in Parys aanbly en hy sien uit na die nuwe fase wat vir hulle voorlê. “Ek het ‘n wonderlike vrou wat my my lewe lank ondersteun en bygestaan het – een wat die pad langs my geloop het en op wie ek altyd kon staatmaak.”
Hy wil nou meer tyd saam met haar, hul kinders en kleinkinders deurbring. Hy het immers verlede week weer oupa geword van sy seun en skoondogter se eersteling.
“Die Here sal my neem waar ek moet gaan,” sê hy. Maar vir nou groet hy met ‘n ongelooflike trots in sy hart vir die skool wat hy agterlaat.
* ‘n Aanstelling in die pos as adjunkhoof moet nog gemaak word, en word die prosedures vir die aanstelling deur die onderwysdepartement gevolg.

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button