Die polisie het motoriste dié week gewaarsku om onder geen omstandighede langs die pad stil te hou tensy dit absoluut noodsaaklik is nie, en dan verkieslik op ‘n veilige plek waar daar mense naby is wat hulp kan verleen, sou jy dit nodig kry.
Die waarskuwing volg nadat ‘n 56-jarige man helder oordag deur vyf mans gekaap is, en toe in die Ennerdale-omgewing afgelaai is.
Sy Toyota Hilux bakkie wat die kapers gesteel het, is later dieselfde dag deur die polisie in Sebokeng gekry.
Die kaping het op 19 April omstreeks 07:40 gebeur toe ‘n verbygaande motoris aangedui het dat daar iets van die slagoffer se bakkie afgeval het.
Die man het niksvermoedend stilgehou om te kyk wat fout is. ‘n Bruin Citroen het by hom gestop. Twee mans het uitgeklim en ‘n vuurwapen op hom gerig. Hy is na die bosse langs die veld geneem waar hy geblinddoek is.
Hy is daarna vermoedelik in ‘n ander voertuig van die kapers ingedwing wat intussen ook by hulle stilgehou het.
Die drie verdagtes in die motor het die slagoffer later in Ennerdale afgelaai, sê sers. Josephine Rani, woordvoerder van die polisie in die Fezile Dabi-distrik.
Die distrikskommissaris van die polisie in die Fezile Dabi-distrik, genl-maj Moses Makhubo, het motoriste gewaarsku om versigtig te wees vir dié modus operandi. Mense wat inligting het oor die voorval, kan ao. Moshoeshoe Mohale van die polisie se voertuigdiefstaleenheid by 076 791 5740 kontak.