NewsNews

Kruistog: ’n Besondere Paas-belewenis

Kruistog: ’n Besondere Paas-belewenis

 

‘n Heerlike stil, sonskyndag het die Kruistog-span vroegoggend op Goeie Vrydag op Vredefort se rugbyveld begroet waar die laaste voorbereidings gedoen, en gereed gemaak is vir die dorp se eerste Kruistog – ‘n unieke Paasbelewenis wat vanjaar deur dié dorp en sy mense aangepak is. ‘n Gebeurtenis wat nie net ‘n unieke ervaring van die Paasgebeure was nie, maar ‘n gemeenskap en sy mense bymekaar gebring het.
Ses weke se harde werk en voorbereiding wat vrugte afgewerp het soos wat voertuie by die sportgronde ingekom het.
Teen 11:00 was daar 1 084 mense deur die hekke, buiten die Kruistog-span, stalletjie-personeel en voetgangers wat na raming nog sowat 150 mense was.
Op die verhoog was Richann Brüssow, Heinie Brüssow (Richann se pa), en Juan Greeff. Almal boere van die Vredefort-distrik.
Die dag is geopen met liedere gepas by die Paasgebeure, waarna Erna Rademan, Magda Perry en Ansie Greeff die Kruistoggangers verder gelei het in sang.
Die pragtige lirieke van “Daar was ‘n houtkruis” en “Voorwaarts Christen stryders” kon tot in die hoofstraat van Vredefort gehoor word.
Net na 11:30 het die Kruistog-konvooi vertrek. Vooraan die trekker en sleepwa met die 5m hoë wit kruis, gevolg deur sowat 1 200 kruistoggangers met kruise gemaak en versier op die mees kreatiewe maniere – van stokke uit die boswêreld van die Vredefort Koepel, tot staalwerk, houtplanke, mosaïek-teëls, doringdraad en self linte wat gesorg het vir ‘n prentjie van kleur en verskeidenheid.
“Ons gebed was dat mense wat deelneem aan hierdie Kruistog ‘n belewenis moet hê met Jesus Christus op die roete. Dat Hy homself aan elke persoon sal openbaar op Sy eie manier.”
“Ons is oorweldig deur die groot getal mense wat opgedaag het, maar ons is nog meer oorweldig om langs die pad vele mense teë te kom wat met trane in hulle oë sê: ‘Wat ‘n belewenis! Dis die antwoord op ons gebed!’”

Só sê Juan Greeff, een van die organiseerders van die Kruistog.
Twee groot wildsbesigtigingvoertuie het die ouer garde en die mense wat moeilik loop, op die roete saamgeneem en het agter die stappers in die konvooi gery. ‘n Gesig om die skare mense met hulle kruise, wat vir omtrent 300m in die straat af strek, van agter te kon sien.

Daar was ses stasies op die roete, elkeen met ‘n uitbeelding van ‘n gebeurtenis uit die lewe van Jesus.
Die eerste stasie, opgestel deur Paul en Cornelia Joubert, het die geboorte van Jesus voorgestel, kompleet met lewendige diere in die “stal” tot groot vermaak van die kinders op die Kruistog.
Die tweede stasie het die wonderwerk van Jesus uitgebeeld waar Hy water in wyn verander het, gedoen deur Ansie Greeff. Die derde stasie, deur Elna Saayman gedoen, het die genesing van die vrou wat bloedvloeiing gehad het, uitgebeeld. Verder was daar ook “Die Tuin van Getsémané”, uitgebeeld deur Marlene Brüssow, “Die Kruisiging” deur die Dinamika-gemeente jeug, en “Die opstanding”, voorgestel deur Anushca Greeff. Terug by die sportgronde het Kruistoggangers elkeen ‘n nagmaalpakkie asook ‘n Kruistog 2022 sleutelhouer as aandenking ontvang.
Gaan daar weer ‘n Kruistog in Vredefort wees? As jy enige een van die Kruistog-span sou vra, is die antwoord onomwonde: JA!
“Uit die mond van vele mense en die boodskappe wat agterna gestuur is, het ons gesien dat hierdie Kruistog, en die voorbereidings daarvoor, iets wonderliks in Vredefort se gemeenskap bewerkstellig het. Nuwe vriendskappe is gesmee, mense het mekaar se vermoëns en waarde raakgesien, en dit gee ons nuwe hoop vir ons dorp en sy boeregemeenskap. Alles tot eer van ons Hemelse Vader,” sê Juan.
Mense wat graag foto’s en videomateriaal van Die Kruistog wil sien, kan gerus na die webtuiste www.kruistog.co.za gaan, of die Facebook-blad, Die Kruistog Vredefort, besoek.
Valtra Parys het die trekker beskikbaar gestel wat die Kruis-vlot gesleep het, en Triptiek Klank het gesorg vir die Paasmusiek op die Kruistog-roete.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button