NewsNews

Bejaarde hande sorg vir mussies teen die winter se koue

Bejaarde hande sorg vir mussies teen die winter se koue

 

Geen uitdaging was nog ooit té groot vir die vlytige hande van ‘n groep bejaardes van Sally Martin Park nie. Toe Gazette in Maart vanjaar gevra het vir ondersteuning vir die inwoners van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum in Parys, het van hierdie bejaardes dadelik ingespring en die breinaalde laat wikkel om vir elkeen van die sentrum se 72 inwoners ‘n warm wolmus te kon gee dié winter.  

Warm glimlagte oor die groot winterbederf vir inwoners van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum in Parys.

Drie weke later, toe die eerste winterkoue hier was, was die mussies gereed om uitgedeel te word. Byna 5kg se wol is gebruik wat meestal verkry is deur donasies van oorskiet wol van inwoners van Sally Martin Park. Nadat die projek voltooi is, was daar selfs nog wol oor.

Die bejaardes van Sally Martin Park wat help brei het aan die mussies vir inwoners van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum, is van links Cathy du Plessis, Elize Odendaal, Rina Green, Marian Otto en Marie Faasen. Babs Beneke en Magda Marais was afwesig met die neem van die foto. Foto’s: Verskaf

 

 

Dit was boonop nie die eerste keer dat hierdie hande – sommige al kromgetrek van artritis, gewerk het om ‘n verskil te maak aan die nood van ander nie. Tien jaar gelede is daar begin om teddies te brei vir ‘n projek, en toe serpe en musse vir ‘n ander uitreikprojek.

Daarna het die Checkers Shoprite Mooigoed vir Kleingoed-projek gevolg waarvoor daar jaarliks ‘n groot aantal items deur die bejaardes van Sally Martin gemaak is, totdat daar sowat vier jaar gelede besluit is om in die behoeftes van die plaaslike gemeenskap voorsien. So is Sally Martin se eie Kindervreugde-projek gebore waarmee die bejaardes al die afgelope drie jaar besig is. Met die projek word kreatiewe speelgoed, maar ook teddies, komberse, truie en ander items gemaak wat weer versprei word onder kinders waar die nood die grootste is. Die oudste deelnemer aan die projek is die 98-jarige Vi Malan wat ook een van die eerste inwoners van Sally Martin Park was.  

 

Related Articles

Back to top button