
Parysenaars hou asem op om te sien of dié besondere kunswerk van plaaslike kunstenaar, Deon TerBlanche, dié keer dalk ‘n vin in die Vaal se water sal sit met ‘n 8ste sluis wat vanmiddag by die Vaaldam oopgemaak is. Wanneer sluise oopgemaak word by die Vaaldam neem dit ongeveer 12 uur voordat die effek daarvan aan die watervlak van die Vaal by Parys gesien kan word.

In Januarie vanjaar was die onderste vin van die graniet- en draad kunswerk ‘n skamele 40cm van die Vaal se magtige golwe waar hy die afgelope drie jaar onder die brug oor die Vaalrivier by Egweni River Lodge in Parys pryk. Deon het die kunswerk in Oktober 2018 gemaak om bewusmaking van die bewaring van ons land se waterbronne en visspesies te skep, nadat rioolbesoedeling van die Vaalrivier tot groot getalle visvrektes gelei het. Die kunswerk is 7m x 1,5m en weeg meer as 350kg.
Dit is gemaak van Parys-graniet, eie aan die omgewing en draad, en het Deon die enorme taak aangepak om die kunswerk met sy sowat 90 granietklippe onder die brug te hang. Toe dit destyds gehang is, was dit nagenoeg 2-2,2m bo die watervlak, sê Deon. Van die prag graffiti-kunswerke op die brug oor die Vaalrivier op die Vrystaat/Noordwes-grens soos jy Parys inry, is alreeds in die water.





