CommunityEditor's choiceEntertainmentNewsNewsPhoto Galleries

Aardklop moet voortgaan

Die groep Aardklop-belanghebbendes het dit ten doel gestel dat die 2016-fees, wat beplan is vir 4 tot 8 Oktober 2016, steeds moet plaasvind...

‘n Groep Aardklop-belanghebbendes meen die Aardklopfees wat beplan was vir 4 tot 8 Oktober moet voortgaan.

Die meeste belanghebbendes van Aardklop Kunstefees is die afgelope week of wat geskok oor die aankondiging deur die direksie van Aardklop Stigting dat die fees nie in 2016 gaan plaasvind nie en ook nie weer in Potchefstroom nie.

Die reaksie op die besluit was so oorweldigend dat ʼn aantal verteenwoordigers van die Potchefstroom Sakekamer, die Noordwes Universiteit, die Tlokwe stadsraad, stigtersborge, ander borge, kultuurorganisasies, die media, kunstenaars, oud-direksielede en ander belanghebbendes, op Sondag 6 Maart 2016 vergader het om die aangeleentheid te bespreek.

Mnr. Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, het namens hierdie groep Aardklop-belanghebbendes gepraat en gesê dat almal dit eens was dat daar oor die afgelope 18 jaar soveel in die Aardklop-fees en Aardklop-handelsmerk belê is, dat hulle nie die aankondiging goedsmoeds kan aanvaar nie.

Daar is besluit dat dringend met die direksie van Aardklop Stigting vergader word om agter die kap van die byl te kom. “Dit is vir ons moeilik om die rasionaal van die direksie se besluit te begryp omdat geen van die belanghebbendes vooraf gekonsulteer is of geen ander inligting beskikbaar is nie”, het Gouws gesê. “Die effek van sodanige besluit op Potchefstroom en sy gemeenskappe in die algemeen, die universiteit, asook op die kunste en kunstenaars in die breë, is nie behoorlik in ag geneem nie”.

Die groep Aardklop-belanghebbendes het dit ten doel gestel dat die 2016-fees, wat beplan is vir 4 tot 8 Oktober 2016, steeds moet plaasvind. “Sodra daar meer duidelikheid oor die stand van sake en die haalbaarheid van ʼn 2016-fees is, sal dit bekendgemaak word”.

Related Articles

Back to top button