

Met die swaar reën van die afgelope Paasnaweek en sewe sluise wat nou by die Vaaldam oopgetrek is, word daar weer asem opgehou of dié besondere geelvis klipkunswerk in Parys, dalk sy vinne in die water sal sit.
In Januarie vanjaar was die onderste vin van die graniet- en draad kunswerk ‘n skamele 40cm van die Vaal se magtige golwe waar hy die afgelope drie jaar onder die brug oor die Vaalrivier by Egweni River Lodge in Parys pryk. Plaaslike kunstenaar Deon TerBlanche het die kunswerk in Oktober 2018 gemaak om bewusmaking van die bewaring van ons land se waterbronne en visspesies te skep, nadat rioolbesoedeling van die Vaalrivier tot groot getalle visvrektes gelei het. Die kunswerk is 7m x 1,5m en weeg meer as 350kg. Dit is gemaak van Parys-graniet, eie aan die omgewing en draad, en het Deon die enorme taak aangepak om die kunswerk met sy sowat 90 granietklippe onder die brug te hang. Toe dit destyds gehang is, was dit nagenoeg 2-2,2m bo die watervlak, sê Deon.





