NewsNews

Landdros ferm oor borgaansoek – staat moet plan maak

Die borgaansoek van die 21-jarige Wian van der Westhuizen en die 42-jarige Fanie Oosthuizen sal vandag, Maandag 7 Maart, nóg in die landdroshof in Parys aangehoor word. Landdros Leshnee Pillay het nie die staat se aansoek om uitstel vir die borgaansoek na 8 Maart weens adv. Jabulani Mlotshwa se verpligtinge in die rondgaande Hoë Hof in Parys, toegestaan nie, en was ferm in haar beslissing dat ’n borgaansoek ’n dringende aangeleentheid is wat so gou moontlik afgehandel moet word.

Die borgaansoek van die 21-jarige Wian van der Westhuizen en die 42-jarige Fanie Oosthuizen sal vandag, Maandag 7 Maart, nóg in die landdroshof in Parys aangehoor word.
Landdros Leshnee Pillay het nie die staat se aansoek om uitstel vir die borgaansoek na 8 Maart weens adv. Jabulani Mlotshwa se verpligtinge in die rondgaande Hoë Hof in Parys, toegestaan nie, en was ferm in haar beslissing dat ’n borgaansoek ’n dringende aangeleentheid is wat so gou moontlik afgehandel moet word.
Pillay het dit duidelik gestel dat sy die aansoek om 14:00 vanmiddag wil aanhoor en dat die staat moet toesien dat iemand beskikbaar is om hom te verteenwoordig.
Van der Westhuizen en Oosthuizen is verlede Donderdag inhengtenis geneem en bygevoeg as beskuldige 6 en 7 onderskeidelik in die staat se saak ná die dood van Samuel Tjexa en Simon Jubeda in Januarie vanjaar. Die oorledenes is verdink van die plaasaanval op die 72-jarige mnr. Loedie van der Westhuizen in die Weiveld-distrik. Daar word beweer dat die oorledenes glo sou gevlug het na die aanval en roofpoging waarna hulle na bewering deur ’n groot groep boere vasgetrek en ernstig aangerand is.
Vyf van die beskuldiges, Boeta van der Westhuizen, Johan Cilliers Sr en Jr, Anton Loggenberg en kapt. Henk Prinsloo het vroeër borg van R5 000 elk gekry en moet weer op 15 April voor die hof verskyn wanneer die saak na die hooggeregshof verwys moet word. Pillay het met die 5 se laaste hofverskyning die staat vermaan dat ondersoekwerk dan afgehandel moet wees nadat daar al herhaalde uitstel vir ondersoek gegee is. So nie, sal sy die nodige stappe neem.
Al 7 staan tereg op 2 klagte van moord.
Intussen het Boeta van der Westhuizen ook weer Maandag 7 Maart vlugtig voor die hof verskyn op ’n klag van intimidasie nadat hy na bewering ’n oproep na een van die Valke-lede sou gemaak het, glo oor intimidasie van sy werkers.
Die staat het aangedui dat hy wil poog om Boeta van der Westhuizen se borg teruggetrek te kry. Hy sal weer op Donderdag 10 Maart voor die hof verskyn en bly in aanhouding tot dan.
Gideon Mandelstam, regsverteenwoordiger vir Boeta van der Weshuizen het aan Gazette gesê dat daar geen borgvoorwaardes gestel was en dat hy herhaaldelik die ondersoekbeampte gevra het vir ’n lys van getuies met wie nie gepraat mag word nie. Mandelstam sê só ’n lys is tot nou toe nog nie gegee nie.
Dit blyk dat met Wian van der Westhuizen se eerste verskyning in die hof op 4 Maart, die borgaansoek uitgestel is na Maandag 7 Maart vir “’n ander landdros.”
Pillay het gesê dat sy aan geen rede kan dink waarom die hof nie die borgaansoek nou kan aanhoor nie. “Ek is die ander landdros”. Sy het gesê dat die hof tot nou toe baie regverdig en tegemoetkomend teenoor beide die staat en die verdediging was,
Hoewel sy die gesag van die Hoë Hof respekteer ten opsigte van die staatsaanklaer se verpligting, het Pillay dit ook duidelik gemaak dat voorsiening vooraf gemaak moes word vir ’n plaasvervanger vir die staat om die borgaansoek te kon hanteer.
Vrydag se klaarblyklik vreemde versoek vir ’n “buite landdros” en versoek vir uitstel vandag het ook duidelik spanning veroorsaak tussen die staat en die verdediging se verteenwoordigers.

Related Articles

Back to top button