NewsNews

Prof. Ig Vorster sterf onverwags vermoedelik na hartaanval

Prof. Ig Vorster sal onder sy studente wat vandag vanoor die wêreld versprei is, onthou word vir sy geweldige kennis, betrokkenheid en spitsvondigheid.

Prof. Ig Vorster sal onder sy studente wat vandag vanoor die wêreld versprei is, onthou word vir sy geweldige kennis, betrokkenheid en spitsvondigheid.

Vir sy gesin is hy egter ‘n “dierbare, sagte pa en oupa” wat ‘n reguit pad geloop het en sy kinders en kleinkinders se verbeelding vlerke gegee het, sê sy vrou, prof. Esté.

“Hy het net die goeie in mense gesien en nooit sleg van iemand gepraat nie.” Prof. Vorster (74) se afsterwe verlede Woensdagaand in sy slaap by hul huis in die stad, was onverwags omdat hy nog gesond was en voltyds gewerk het as senior regsadviseur by die Noordwes-Universiteit (NWU). Hy het vermoedelik ‘n hartaanval gehad. Hy het verlede Dinsdagoggend flou geword, geval en sy arm oopgesny. By die hospitaal waar sy wond versorg is, kon tydens toetse nie vasgestel word wat die floute veroorsaak het nie, het sy vrou vertel. Hy het toe by die huis gaan rus.

Prof. Vorster, oud-dekaan van die NWU se Regsfakulteit, is Dinsdag vanuit die Gereformeerde Gemeente op die Bult (by die Teologiese Skool) begrawe. Hy sou 30 Mei aftree en op 2 Junie sy 75ste verjaardag vier. “Ons het baie uitgesien na sy aftrede en klaar vliegkaartjies gekoop om vir ‘n maand vir ons dogter (Hattie Wright) in Australië te gaan kuier,” het prof. Esté vertel. Sy en prof. Vorster het mekaar as studente op die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys ontmoet. Hulle is in 1965 getroud. Prof. Esté was later direkteur van navorsing in gesondheidswetenskappe by die NWU.

“My man het geglo in vroueregte. Ons kon ons loopbane integreer en steeds daar wees vir ons kinders.” Hy het sy loopbaan in die 1960’s in Vereeniging begin by dieselfde regspraktyk waar oud-pres. F.W. De Klerk gepraktiseer het. Hy het reeds toe aandklasse in regte gegee en daar ‘n liefde vir die akademie ontwikkel, het sy vrou vertel. Hy het sy loopbaan as regsdosent by die NWU omstreeks 1974 begin. Sy oud-studente praat met die grootste ontsag van hom. “Ons onthou hom vir die humoristiese manier waarop hy die teorie en praktyk by mekaar kon uitbring,” het Hantie Groenewald, ‘n prokureur en een van sy oud-studente, vertel.

“Ons het geweldige respek vir hom gehad en hy het sy studente altyd met groot respek en geduld hanteer. Baie van ons het hom nog gereeld gebel om raad oor die praktyk te vra. Hy het geweldige kennis gehad en was besonder gewild.” Volgens prof. Esté was haar man se werk ook sy stokperdjie. “Hy het die regstudente altyd laat skaterlag met sy pittige formulering van vraestelle, bv. ‘n mnr. Vleis in ‘n vraag oor ‘n slaghuis.” Vir sy kinders en kleinkinders het hy die storiekarakter Jan Baadjies wat sy pa, Jan, geskep het, uitgebrei en ontwikkel tot stories waarin dié supherheld moeilike probleme opgelos het en waarin die morele altyd geseëvier het.

“Hulle het aan sy lippe gehang,” het prof. Esté vertel. “Hy het diep spore getrap,” het sy seun, Jan, gesê.

Related Articles

Back to top button