
Betaal gaan jy betaal vir krag! Daar’s nie ompaaie nie. Talle verbruikers het dalk al in die verlede en nou weer knaende Whatsapp-boodskappe ontvang waarin gesê word dat jy Eskom of munisipale koopkrag kan kry teen R550 vir 1300 eenhede krag, of 1 100 eenhede krag teen R400, met ’n nommer waarnatoe jy dan kan skakel of Whatsapp.
Dit is ’n bedrogslenter, en moet jy asseblief nie val hiervoor nie, het Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, bevestig. Jy kan slegs voorafbetaalde krageenhede koop by die wettige verkoopspunte of via banke wat die fasiliteit bied, of dan die munispale kantore.
Baie munisipaliteite het al in die verlede groot verliese gehad juis weens onwettige kragverkope, en/of kragkoppelings. Juis daarom moet jy baie versigtig wees om jou nie skuldig te maak aan hierdie onwettige bedrywe nie. Met Ngwathe se begrotingsvoorstelle wat ter tafel gelê is, en nou gedurende April en Mei oop is vir openbare bespreking en raadpleging, is die voorgestelde tariefstyging vir elektrisiteit, ’n 12,8% styging. Die styging is hoofsaaklik as gevolg van verdere groot Eskom-verhogings, maar is die voorstel nog onderhewig aan goedkeuring deur Nersa, die nasionale elektrisiteitstarief reguleerder.




