Michiel van Breda du Toit Famieliebond hou fees
Michiel van Breda du Toit Famieliebond hou fees
Afstammelinge van Michiel van Breda (gebore 1843) en Jakoba Elizabeth (gebore 1847) het onlangs weer die feesvure laat brand toe daar die naweek van 19-21 Maart by Udolpho net buite Parys saamgekuier is.
Die familie het ‘n Familiebond gestig juis om die familieregister in stand te hou, en saam met familie argiefmateriaal vir die nageslag te bewaar. Een van die doelstellings van die Familiebond was om gereelde byeenkomste te hou soos wat nou weer by Udolpho gehou is.
Michiel en Elizabeth het 14 kinders gehad, waarvan nege afstammelinge het. Drie kinders is oorlede en twee egpare was kinderloos. Vanjaar het die feesreëlingskomitee oudergewoonte met passie gewerk om die saamtrek te reël.
Van jonk tot oud het die fees baie geniet, staaltjies gedeel, ou familievriende het weer bande opgetel en daar is gekuier tot laat die nag. Soos met ander families, het van die gesinne in hierdie familie hulle ook oor die jare in die buiteland gevestig, en is die kuier selfs daar voortgesit met familielede wat onder meer in Amsterdam en Nederland saamgekuier het.
Die volgende familie saamkuier word beplan vir 2025 met die herdenking van Michiel van Breda se 100 jaar sterfdatum.