Hy staan 2,01m hoog in sy skoene en word as een van die beste slotte beskou wat vir Suid-Afrika op die rugbyveld gedraf het. Maar vandag, Donderdag 24 Maart, het dié oud-Bokkaptein en Blou Bul-speler, Victor Matfield jong oë op die Hoërskool Parys se rugbyveld laat glinster, waar hoërskoolseuns en n paar laerskoolseuns, hande gevou om ‘n rugbybal, sit en luister het na wat hy vertel het van sy roemryke dae op die rugbyveld.

Matfield het kom gesels met die spelers van 14 skole wat vandeesweek deelgeneem het aan die Namgola Logistics Parys Alumni 0.19 rugbyweek. Sy boodskap – aanhou ten spyte van teleurstellings, en om altyd ‘n positiewe ingesteldheid te behou.
Matfield het vertel van daardie hoendervel gevoel toe hy die eerste keer as jong speler die groen-en-goud trui oor sy kop getrek het. “Daar was groot name soos Corne Krige, André Venter, Mark Andrews, Rassie Erasmus…. Jy’s so opgewonde, maar net so op jou senuwees.” “Die volgende week sou ons teen die All Blacks op Nuweland speel. Om daar uit te draf, daar te gaan staan saam met jou pêlle, die All Blacks die Haka te sien doen. Ek kan dit nie beskryf nie…dit is ‘n droom wat waar word. ‘n Ongelooflike gevoel, ek kry nou nog hoendervleis as ek daaraan dink,” het Matfield gesê.

Vir hom het sy groot hoogtepunte op die rugbyveld eers met sy universiteitsdae by Tukkies in plek geval. “Deesdae word baie spelers al op ‘n jonger ouderdom genader.
Ek het met ‘n klein beurs by Tukkies en die Blou Bulle gaan studeer, en deur harde werk het dinge begin gebeur,” het Matfield vertel. Toe hy deur die seuns gevra is wattter voorspelers vir hom uitgestaan het, lag hy lekker as hy sê gelukkig het hy saam met Bakkies Botha gespeel, en nie teen hom nie. Vir hom het All Black flank Jerry Collins uitgestaan as een van die manne wat die hardste kon ”tackle”.
So ook Jonah Lomu teen wie hy in sy jonger dae gespeel het. “Ek onthou as jy lang skoppe geskop het, en hy’t die bal agter gevang en hy’t gekom vir jou, moes jy groot lyk. Jy’t geweet – lyk net groot want as hy op jou afkom op die veld, het jy moeilikheid”.
Daar was ook manne soos Dan Carter en Richie McCaw. Hy het hulle beskryf as twee spelers wat net altyd teruggekom het, Richie is aan sy hare getrek, geslaan, maar hy het altyd gehou by die reëls gefokus op die wedstryd. ‘n Wedstryd wat hy altyd sal onthou is die Drie Nasie wedstryd teen Australië waarin SA ‘n bonuspunt gekort het om die Drie Nasies te kon wen, en waarin Matfield die wendrie gedruk het.

- Al die wedstryde wat tydens die rugbyweek gespeel is, is deur Supersport op hul Supersport Schools Platform gestroom, en het die week die geleentheid geskep vir jong spelers om hul vaardighede op die rugbyveld te verbeter, en hul voor te berei vir die rugbyseisoen wat voorlê.




