Die verstopping by ‘n riool mangat tussen Tumahole en Schonkenville wat inwoners in veral woongedeeltes rondom Endstraat en Derdelaan woedend gehad het oor die ondraaglike stank, is uiteindelik ná twee weke se skandelike rioolstorting, oopgemaak.

Die Ngwathe munisipaliteit het Saterdag ‘n maatskappy gekry wat die verstopping kon oopmaak omdat die munisipaliteit nie die nodige toerusting het om dit self te kon doen nie. Die rioolwater het die afgelope twee weke in die kanaal ingeloop wat weer in die Rooidam invloei, en ook die Mimosa-spruit besoedel wat weer in die Vaalrivier inloop. Dit het tot ’n ondraaglike stank gelei, ook by die laerskool se sportgronde, en is die Rooidam se water steeds ‘n vrotspul van grasgroen rioolwater.

Dit was teen Gazette se druktyd nog nie seker wat die munisipaliteit gaan doen om die besoedelde gebied te rehabiliteer nie. Die voorstel is dat die kanaal minstens gespoel sal moet word om die rioolwater in die dam te verdun. Inwoners het die naweek al gedreig om ‘n kriminele klag teen die munisipaliteit te lê, sou die storting nie stopgesit word nie, en is die Fezile Dabi distriksmunisipaliteit se gesondheidsafdeling ook van die rioolbesoedeling in kennis gestel.




