MotoringSport

Groot rugby-aksie ná 2 jaar vir Parys met o.19 rugbyweek

Groot rugby-aksie ná 2 jaar vir Parys met o.19 rugbyweek

 

Ná twee jaar wat Covid-19 ook die Hoërskool Parys se baie suksesvolle jaarlikse rugbyweek gekelder het, is Parys van 22 tot 25 Maart uiteindelik weer die gasheer vir die Namgola Logistics Parys Alumni o.19 Rugbyweek.

Die week is in 2014 begin met 184 spelers wat deelgeneem het, en het binne 6 jaar gegroei tot meer as 600 spelers en 74 afrigters van skole sover as Brandfort, Kroonstad, Heilbron, Wolmaransstad, Zeerust, Piet Retief, Hoopstad, Sasolburg, Florida en Burgersdorp.

’n Groot plus vir die dorp is die betrokkenheid van SuperSport by vanjaar se rugbyweek, wat al die wedstryde op hul Supersport Schools platform sal stroom. Die week is ’n enorme finansiële inspuiting vir die dorp se ekonomie, maar ook plattelandse rugby as sulks, met 14 skole wat sal deelneem en skitterende rugby beloof vir die wedstryde wat tydens die week gespeel word.

Skole wat vanjaar sal deelneem sluit in Parys, Hennenman, President Steyn, Heilbron, Balfour, Piet Retief, Harrismith, Brandfort, Wessel Maree, Hoopstad, Belvedere en Nylstroom. Die doel van die week is om die geleentheid te skep vir jong spelers om hul vaardighede op die rugbyveld te verbeter, en hul voor te berei vir die rugbyseisoen wat voorlê.

Die dorp se sentrale ligging, en uitstekende logistiek vir die aanbied van die rugbyweek, het in die verlede gesorg vir ’n uitstaande voorbereidingsgeleentheid vir skolerugby spelers sowel as afrigters. Die week bied elke span die geleentheid om drie wedstryde te speel oor die vyf dae periode.

Tussendeur word daar ’n ook ’n dag opsy gesit vir ’n pretaktiwiteit vir die deelnemende spelers. Richard Bands sal vanjaar die seuns help met afrigting.

Met vorige rugbyweke het groot rugbyname soos Jacques Botes, Greg Miller, Hugo van As, Jaco Kriel, AB Zondagh en Michael Horak hul kennis met die seuns kom deel.

Die week word ondersteun deur SARU-skeidsregters en ontwikkelende skeidsregters vanoor Suid-Afrika wat sal deelneem aan die week, om ook hul ervaring op te skerp.

Om van die rugbyweek ‘n selfs nog groter sukses te maak is die ondersteuning van die Parys gemeenskap baie nodig en word elke Parysenaar genooi om te kom kyk na die wedstryde, en die seuns op die veld te kom aanmoedig. Hierdie is ‘n geleentheid waarna twee jaar lank uitgesien is en kan goeie rugby verwag word

 

 

Related Articles

Back to top button