
Die R30 tussen Bothaville en Allanridge het Sondagaand, 6 Maart die lewe van nog ‘n motoris ge-eis. Dit volg net ‘n week nadat ses mense van Bothaville op Sondagaand 27 Februarie ook op dié pad gesterf het nadat hul voertuig die pad verlaat en in die water van ‘n pan langs die pad beland het.
Dié gedeelte van die R30 het vroeg in Februarie ná swaar reën verspoel toe water weerskante van die pad oor die padoppervlak gestoot het, en groot skade aan die teervlak aangerig is.
Konstruksie aan die R30 om die skade aan die pad te herstel is net voor die naweek voltooi, maar is die pad steeds uiters gevaarlik veral saans wanneer sig beperk is. Daar is steeds water weerskante van die pad en geen padversperingsreëlings by dié gedeelte van die R30 nie.
Voorverlede naweek alleen is 11 ongelukke op dié pad gerapporteer.
Die foto is op 22 Februarie geneem. Foto: Verskaf
Op 5 Februarie was ‘n Intercape-bus met 86 insittendes ook in die vloedwater langs die R30 vasgekeer. Al die insittendes kon na veiligheid gehelp word. Hulle was van Umtata na Pretoria onderweg. Hoewel paaie in die Vrystaat van die slegstes in die land is, is die toelaag vir die instandhouding van paaie in die provinsie deur die nasionale tesourie aan ander provinsies toegeken het Netwerk24 vroeër berig.




