News

Hiervan wil inwoners hê moet die munisipaliteit dringend werk maak

Hiervan wil inwoners hê moet die munisipaliteit dringend werk maak

   

 

Baie positiewe voorstelle is verlede week van inwoners van wyke 7, 10, 12 en 14 gekry tydens die vyfjaarlikse munisipale Integrated Development Plan (IDP) vergadering wat gesamentlik vir die vier wyke by die AfriDome gehou is. Die vergaderings word in alle munisipale wyke gehou en is van kardinale belang om die behoeftes vir dienslewering in ‘n gemeenskap te bepaal sodat ‘n munisipaliteit daarvolgens kan beplan en begroot. Juis daarom is dit belangrik dat inwoners die vergaderings sal bywoon.  

 

 

Van die raadslede van wyke 7,10, 12 en 14, en munisipale amptenare wat die vergadering bygewoon het.

 

Dankie aan elke inwoner wat tyd afgestaan het om insette te lewer.   Wat uitgestaan het by die vergadering was die dorp se ernstige water- en kragvoorsieningsprobleme en inwoners se behoefte, maar ook reg tot betroubare en konstante voorsiening van krag en skoon drinkwater. Veral die behoefte aan noodkragopwekkers by die water- en rioolaanlegte is uitgewys om seker te maak hierdie dienste word nie onderbreek tydens kragonderbrekings nie.

Nog ‘n groot behoefte is ‘n sentrale inbelsentrum waar telefone 24 uur, sewe dae per week beantwoord sal word om klagtes en probleme te kan rapporteer met ‘n doeltreffende verwysingstelsel sodat mense se klagtes nagegaan en opgevolg kan word. Iets wat eenvoudig nie op die oomblik vir Parysenaars bestaan nie, en waar dikwels gekla word dat oproepe na die munisipaliteit om diensleweringsprobleme te rapporteer, nie geantwoord word of terugvoer gegee word nie. Dan wil inwoners ook hê dat die munisipaliteit indringend sal moet aandag gee aan die voorsiening van leiwater en instandhouding van leiwaterkanale om die druk op watervoorsiening aan die dorp te verminder.

Parysenaars wil sien dat daar genoeg parke met die nodige geriewe is vir alle woonbuurte in dié wyke sodat dit nie ‘n toestroming van bestaande parke veroorsaak waar tans geen ablusie- of braaigeriewe is nie. Daarmee saam wil Parysenaars ook sien dat die munisipaliteit die verwaarloosde Mimosa Tuine sal opknap of laat privatiseer sodat dit tot voordeel van toerisme vir die dorp gebruik kan word.

Meer betrokkenheid van die munisipaliteit by nie-winsgewende welsynsorganisasies en die aanspreek van die dwelmprobleem in die dorp deur wetstoepassers, is bepleit, en die bevordering van toerisme geleenthede.

Parysenaars wil ook hê dat die munisipaliteit die paaie moet herstel en straatligte in werkende toestand moet wees. Voorsiening van behuising en die voltooiing van HOP-huise is genoem, en dat die munisipaliteit weer verkeersbeamptes sal kry om bywette toe te pas. ‘n Groot bekommernis vir inwoners is die toestand van die dorp se stortingsterrein, en is gevra dat daar weer ‘n tuinvullis oorlaaistasie geskep sal word waar inwoners veilig hul tuinvullis sal kan stort sonder vrese om aangeval of beroof te word by ‘n stortingsterrein.

Laastens wil inwoners ook sien dat munisipale amptenare van die nodige gereedskap en toerusting voorsien sal word sodat hulle hul werk kan doen en herstelwerk volledig sal afhandel, in plaas daarvan om oral waar gewerk word, oopgegroude gate en beskadigde sypaadjies en strate agter te laat. Uit die kwessies wat hier genoem is, sal nou ‘n prioriteitslys van behoeftes van die gemeenskap saamgestel word wat in ag geneem sal word wanneer fondse toegeken moet word.  

 

     

 

Related Articles

Back to top button