NewsNews

Om Parys skoon te hou is hul trots

Om Parys skoon te hou is hul trots

Sedert daar in November 2020 begin is om Parys se hoofstraat skoon te maak met die Parys in Aksie-inisiatief wat nou as die #MyParys-inisiatief in samewerking met Parys Sakeliga gedryf word, het Patrick Molefe sy karwagbaadjie verruil om week na week hier te help. Die doel – om seker te maak die dorp se hoofstraat en Grewarlaan bly skoon.

In Augustus verlede jaar het hy skielik nie meer opgedaag wanneer Braam Cilliers en die span op ‘n Donderdag begin met hul weeklikse taak om seker te maak die dorp is netjies wanneer toeriste ’n dag of die naweek hier kom spandeer.

Tot op ‘n dag einde September 2021 toe Braam ‘n man na hom hoor roep het by die kruising van Breë- en Grensstraat.

Dit was Patrick wat weer gereed was om by die span in te val – met sy kruk. In die twee maande wat hy weg was, is sy been geamputeer weens diabetes, nadat hy die been al in 2020 voordat hy by die skoonmaak inisiatief betrokke geraak het, ernstig beseer het toe hy deur drie mans aangeval is.

Patrick vertel dat hy homself oortuig het om nie toe te laat dat sy fisiese gestremdheid hom terughou nie. Vir hom is die skoonmaakprojek ‘n passie. Iets waarvan hy wil deel wees. “I like it,” sê hy met ‘n groot glimlag.  

Patrick Molefe wat ten spyte daarvan dat sy been geamputeer is, elke week op sy pos is om te help skoonmaak. Foto’s: Verskaf

Boonop help die weeklikse geld wat hy op ‘n Donderdag as deel van die span verdien om vir sy dogtertjie van twee jaar te sorg. Vir hom is dit sy enigste sekere inkomste. Hy is ook die enigste van die oorspronklike groep skoonmakers wat nog by die projek betrokke is. Deesdae is hulle vyf.

Naas Patrick is daar Samson Shebe, Johan Khumalo, John Nketu en Thembani Nketu.

Die #MyParys skoonmaaksie is al deur menige inwoner en besoeker aan die dorp raakgesien, en kry gereeld baie positiewe terugvoer vir die enorme werk wat gedoen word, ten spyte van sommiges wat steeds bly glo dat dit net die munisipaliteit se werk is om die dorp skoon te hou.

Braam vertel dat die volgehoue inisiatief net moontlik is danksy die ondersteuning van borge en Parys Sakeliga. Daar is reeds ‘n borg gekry om ook nou Boomstraat skoon te maak. Die inisiatief het bowendien al ander inwoners aangemoedig om hul eie sypaadjies skoon te hou.

Daar word ook gereeld kers opgesteek by soortgelyke inisiatiewe in ander dorpe soos die Kroonstad Ignite & Revive projek om idees te kry wat ook hier geïmplementeer kan word.

Elke Donderdag word daar vir vyf ure lank deur die span in Breëstraat en Grewarlaan skoongemaak, en sal jy die twee skoonmaak karretjies elke week in die dorp raaksien wanneer tussen 40 en 50 vullissakke volgemaak en weggery word. Elke karretjie is toegerus met twee asblikke.  

 

Week na week sal jy dié skoonmaak karretjies en die span werkers in Breëstraat en Grewarlaan sien.

Dankie aan elke sakeonderneming, inwoners en ander borge wat alreeds bydraes tot die projek gemaak het en in besonder Braam Cilliers wat die projek dryf.

Braam Cilliers wat die trotse projek dryf saam met Patrick wat sedert die begin van die inisiatief al sy deel doen.

Die koste om die projek aan die gang te hou beloop tussen R1 200 en R2 000 per week. Soms word daar selfs ekstra werkers gekry om ook op ander plekke skoon te maak en maak die inisiatief ‘n reuseverskil. Die droom is om die projek uit te brei en meer dae te kan skoonmaak, maar sonder fondse is dit onmoontlik.

As jy wil bydra kan jy die volgende bankbesonderhede gebruik: Sakeliga Parys, FNB Rek nommer: 62868261133, tjekrekening, verwysing: Skoonmaak.

Vrydag, 18 Februarie is daar danksy die inisiatief van Mooi Parys (Braam Celliers) en NgwatheRA (Selma Kok) ‘n baie positiewe gemeenskap dinkskrum gehou oor hoe om Parys skoon te maak en skoon te hou. Hierby het die groep ook ‘n uitdaging gesien in die burgemeester, rdl. Victoria de Beer, se idee vir ‘n kompetisie vir die skoonste dorp in Ngwathe. Die vergadering is deur inwoners van Parys, Schonkenville en Tumahole bygewoon wat ook op hul beurt aan ander organisasies en inisiatiewe behoort. So byvoorbeeld was daar nege jong “Tourism Ambassadors” wat die vergadering bygewoon het. Die 22 deelnemers aan die dinkskrum het met ‘n verskeidenheid positiewe en unieke insette vorendag gekom. Die idees sal in ‘n opvolg vergadering op 22 Februarie in klein komitees verder uitgewerk word en terugvoer aan die gemeenskap gegee word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button