NewsNews

Valke slaan toe – vyf vasgetrek vir beweerde koperkabeldiefstal

Valke slaan toe - vyf vasgetrek vir beweerde koperkabeldiefstal

‘n Groot deurbraak is vandeesweek gemaak in die voortslepende vlaag van diefstal van koperkabel in Parys met 5 verdagtes wat in Parys in hegtenis geneem is op klagte van diefstal, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en peuter met noodsaaklike infrastruktuur.

Dit volg na ‘n gesamentlike operasie deur die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad ondersoeke gestasioneer in Thabong, die K9-eenheid van Sasolburg, en die Toegewysde Provinsiale Tweedehandse Goedere Beampte (DSO) in samewerking met Telkom, Eskom, Transnet en MTN.

Die vyf verdagtes, Andries Jacobus Jordaan (54), Jan Ntshidi (47), Zweli Nxanga (31), Tsietsi Lucas Morobe (41) en Hilton Dannis Wall (64) het vandag, Vrydag 18 Februarie, in die landdroshof in Parys verskyn waar borgtog toegestaan is aan al vyf, het  Valke-woordvoerder, kapt. Christopher Singo, bevestig.

Volgens kapt. Singo is sekere skroothandelaars geidentifiseer wat na bewering van die gesteelde eiendom sou ontvang het. Singo sê Eskom koperkabel, Eskom aluminium, Telkom koperkabel en munisipale kabel met ‘n geraamde waarde van meer as R60 000 is gekry nadat die polisie Salvage Junkie Scrap Metal besoek het.

Terwyl polisiebeamptes nog by die handelaar besig was, het drie sekuriteitsbeamptes, Ntshidi, Nxanga en Morobe wat klaarblyklik Eskom-persele bewaak, daar opgedaag met gesteelde koperkabel met ‘n geraamde waarde van R8 000. Die kabel is by Eskom-persele gesteel.

Die saak word verder ondersoek en sal die verdagtes weer op Maandag 14 Maart voor die hof verskyn, het kapt. Singo gesê.

Jordaan het R5 000 borg gekry, en die ander beskuldiges R2 000 borg elk.

 

 

 

 

Related Articles

Back to top button