Opsporingstoestel lei polisie en patrollielede na gesteelde sonpanele
Boer sien waar diewe met sy sonpanele ry
Danksy ‘n opsporingstoestel waarvan die beweging daarvan op ‘n slimfoontoepassing op ‘n selfoon gevolg kon word, het ‘n boer van die Vredefort-distrik sy gesteelde sonpanele blitsvinnig terug, en is vier verdagtes Saterdagaand 12 Februarie, vir die diefstal gearresteer. Volgens die Vredefort Koepel GPF was Barry Coetzee van die plaas Mooiuitsig besig met patrollie toe hy opmerk dat sy sonpanele weg is
Min het die diewe egter kon weet dat hy op sy slimfoontoepassing presies kon sien waar daar met sy sonpanele gery word op die R59 tussen Viljoenskroon en Vredefort. Coetzee het die SAPD en GPF-patrollielede in kennis gestel waarop die verdagte voertuig voorgekeer is.
Die vyf verdagtes het uit die voertuig gespring en in die veld ingehardloop. Vier is egter tussen die lang gras gekry en gearresteer. Daar is ook beslag gelê op die voertuig, die vier sonpanele en gereedskap wat in die voertuig was.

Dankie aan die SAPD en Vredefort Koepel GPF-lede wat onmiddelllik gereageer het om dié misdadigers in hul spore te stuit.




