News

Boepensbroodjies by die duisende vir Bybels

Boepensbroodjies by die duisende vir Bybels

   

 

In die kerksaal van die NG gemeente Parys-Oos was dit verlede week die ene bedrywigheid. Gasstowe en jaffelpanne op ’n ry, 660 brode wat gesmeer moes word. Altesaam 320kg vleis en 120kg groente wat gaargemaak moes word.

Die eindresultaat 5 000 smullekker Boepensbroodjies (jaffels) wat weer vanjaar verkoop kon word, sedert daar die laaste keer in 2020 gebak is net voor grendeltyd ons getref het. Boepensbroodjies wat meer as net jou honger kan stil, want dié boepensbroodjies help al vir jare die Bybelgenootskap om Bybels bekostigbaar te kan verkoop.

Dié gemeente se Jaffel-projek en pretdag wat met die uitsondering van 2021 al die afgelope 19 jaar aangepak word, help jaarliks om tussen R50 000 en R60 000 vir die Bybelgenootskap bymekaar te maak.

Die projek is aanvanklik deur ’n Vanderbijlparkse gemeente begin en het Parys-Oos gehelp maar het dit toe eie aan Parys geword, vertel ds. Gerrie van Dyk, organiserende sekretaris van die Bybelgenootskap in die Vrystaat en Noordwes.

 

 

   

 

 

 

 

 

 

Ds. Gerrie is al die afgelope 27 jaar by die Bybelgenootskap betrokke en het Parys oor die jare vir hom sinoniem met die Jaffel-projek geword. Jaar vir jaar loer hy in wanneer die jaffelpanne op die gasstowe staan, en is hy daar wanneer daar pretdag gehou word, soos ook die afgelope Saterdag gedoen is. Van die 7 359 tale in die wêreld het 3 948 tale nog geen deel van die Bybel op skrif nie, en net 700 tale het vandag ’n volledige Bybel. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is vandag die enigste instansie in Afrika wat Bybels kan vertaal en druk. Waar ’n standaard Bybel twee jaar gelede nog R99 gekos het, kos dit vandag R150 in die handel. Om ’n standaard Bybel te druk kos egter R200.

Dit beteken om Bybels bekostigbaar te kan verkoop, is daar ’n R50 verlies per Bybel vir die Bybelgenootskap of te wel R55 miljoen verlies vir elke miljoen Bybels wat verkoop word. Maar danksy inisiatiewe soos die Jaffel-projek en pretdag van die NG gemeente Parys-Oos, wat net enkele van die inisiatiewe is wat die Bybelgenootskap in sy groot taak ondersteun, kan Bybels steeds bekostigbaar verkoop word. Die Bybelgenootskap bestaan reeds 200 jaar en is die Bybel steeds die mees gelese boek ter wêreld.    

 

 

 

 

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button