NewsNews

Agterstand met bestuurslisensies sal maande vat om in te haal

Agterstand met bestuurslisensies sal maande vat om in te haal

 

 

Al is die enigste masjien in die land wat rybewyse druk weer sedert 17 Januarie aan die loop, en word daar dag en nag gewerk om die agterstand in te haal, word geraam dat daar nog 2,1 miljoen bestuurslisensies landwyd is wat teen einde Maart vanjaar sal verval, wat nog gedruk moet word. The Driving Licence Card Account (DLCA) meen dit kan nog tot September neem om die agterstand in te haal. Eers is die agterstand veroorsaak deur die Covid-19 pandemie, en daarna het die masjien wat die rybewyse moet druk in November 2021 tot stilstand gekom, en moes gewag word vir ’n onderdeel uit Duitsland.

Verlede jaar is grasie gegee vir motoriste wie se rybewyse tussen 26 Maart en 31 Augustus 2021 verval het, en was dié rybewyse geldig tot 31 Maart 2022. Motoriste wie se rybewys na 31 Augustus 2021 verval het, moes noodgedwonge omdat hulle nie ingesluit is in die grasietydperk nie, vir ’n tydelike lisensie aansoek doen, sou hulle eers aansoek vir hernuwing gedoen het ná die rybewys verval het, of op die nippertjie voor die vervaldatum.

Maar die chaos en agterstand met rybewyse weens die pandemie en die masjien wat vir twee maande gestaan het sonder dat rybewyse gedruk kon word, is nie die enigste uitdagings vir motoriste in Parys nie. Die Parys-lisensiekantoor kon met die skryf van hierdie berig ook steeds geen transaksies doen nie, weens ’n tegniese probleem, en kon slegs rybewyse hier afgehaal word waarvoor vir die hernuwing daarvan al vroeër aansoek gedoen is.

Dit beteken dat motoriste na die Vredefort of Sasolburgse lisensiekantore moet ry vir onder meer motorvoertuiglisensie hernuwings, bestuurslisensie hernuwings, aansoeke vir duplikate van registrasie sertifikate, aansoeke vir Publieke Bestuurs Permitte, aansoeke vir leerlinglisensies en die aflê van leerlinglisensietoetse. Hilary Mophethe, woordvoerder van die departement van polisie, paaie en vervoer het met Gazette se ter perse gaan Maandag gesê dat die Sasolburg-kantoor ook nie tans kan help met afsprake vir bestuurslisensies of die toets vir bestuurslisensies nie, en was motoriste moedeloos al met die gesukkel.  

 

   

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button