News

Produsente positief ten spyte van waterskade

Produsente positief ten spyte van waterskade

Graan SA se opname onder produsente toon dat ten minste 20% van produsente meer as 60% van hul lande het, wat deur waterskade beïnvloed word. Só sê Graan SA ná produsente in Bothaville, Allanridge, Wesselsbron, Bultfontein, Hertzogville en Hoopstad, besoek is wat deur dié onlangse reënval geraak is. Daar is alreeds groot oppervlaktes binne die gebied wat afgeskryf kan word en ‘n nul oes gaan lewer, sê die organisasie.

Daar is ook baie lande wat potensieel afgeskryf gaan word weens die plat topografie. Die topografie, gewas geplant, plant datum en grondtipe speel ‘n deurslaggewende rol in die blootstelling aan té veel reën en die impak van die reën en afloopwater op die gewasse, en daarom dus ook op die skade wat reeds of potensieel gerealiseer gaan word, sê die organisasie. Dit is veral die hoë-potensiaal watertafel grondprofiele wat die meeste deur die oormaat water geraak word.

Die sterker en tradisioneel laer-potensiaal gronde in die spesifieke omgewing, is die lande wat vàn die produsente finansieel deur die jaar kan help. Daar is verder berigte van skade uit die wyer somersaaigebied wat gelokaliseerde skade opgedoen het, maar daarmee saam getuig produsente ook van fantastiese gewasse wat hulle tans het en die belofte na vol potensiaal en selfs rekord oeste op sekere lande, sê Graan SA. Produsente se gemoedere is bo verwagting goed, het dr. Pieter Taljaard, hoofuitvoerende beampte van Graan SA gesê. Wat egter sake vererger is dat daar gedeeltes van Wesselsbron, Makwassie, Leeudoringstad en selfs Parys is, waar reënbuie van tussen 60 en 100mm oor ‘n naweek aangeteken is,” het Taljaard bygevoeg.

Addisioneel tot die skade aan die gesaaides is daar enorme skade aan infrastruktuur. Belangrike tersiêre- en sekondêre grondpaaie het tot so ‘n mate verspoel dat dit onbegaanbaar is en gedeeltes sal weer totaal herbou moet word. Graan SA het ‘n dringende beroep op plaaslike en nasionale owerhede gedoen om indringend aandag aan kritiese infrastruktuur te gee. Die organisasie spreek ook in sy verklaring kommer uit oor styging in direkte insetkoste wat die hele landbousektor in die gesig staar. Dit is veral die impak van die internasionale gebeurtenisse wat die plaaslike pryse van bowenal kunsmis deur die dak laat styg het.

Dit gaan sake, veral vir produsente met groot verliese, verder bemoeilik in die komende seisoen om die volgende oes te kan plant. Wintergrane word noodgedwonge eerste aan die huidige hoë kunsmis pryse blootgestel om oor ongeveer drie maande plant-gereed te wees. “Ons bly egter vol hoop dat internasionale pryse ‘n ommekeer sal beleef en dinge weer na normaal kan terugkeer,” het Taljaard gesê.

Related Articles

Back to top button